Tweede sege in ‘n ry vir Abbotsdale
Die Abbotsdale Rugbyklub het sy goeie begin van die seisoen voortgesit met ’n redelike maklike oorwinning oor die gasheerspan van Koringberg.
Om Koringberg op sy tuisveld te klop, is geen geringe taak nie, maar die manne van Abbotsdale het veral in die tweede helfte die krane behoorlik oopgedraai om met 38-3 te seëvier.
Abbotsdale het goed begin, maar goeie verdediging deur Koringberg asook ’n reeks ongedwonge foute deur die besoekende Lillies het die wedstryd aanvanklik in die weegskaal gehou.
Daar was ’n titaniese stryd in die eerste helfte en die spelers het met die telling op 10-3 in die guns van Abbotsdale ’n welverdiende blaaskans geneem.
Koringberg het in die tweede helfte probeer om beter gebiedsvoordeel te geniet, maar die Abbotsdale-span, onder duidelike instruksie om bal in hand te hou, het die tuisspan met kreatiewe aanvalbewegings onder druk geplaas.
Met Sergio Prins en Bertrum Gysenberg aan die spits was Abbotsdale se agterlyn vuurwarm en moes Koringberg behoorlik wal gooi.
Beide Prins en Gysenberg het twee keer agter die doellyn gaan kuier en Curt-Lee Klaasen was met vier doelskoppe in die kol.
Die ander puntemakers was Eschel Josias (drie) en Godwin Jacobs (drie).
Die Lillies speel komende Saterdag, 7 Mei, gasheer vir Porterville.
Laasgenoemde span moet nog ‘n wedstryd in vanjaar se liga wen en sal beslis die bordjies wil verhang. – Heinrich Robertson (mediabeampte)