CommunityLatest

Weskus wil toerisme stukrag gee met nuwe aksies

Persverklaring

‘n Groep toergidse en toeroperateurs het as gaste van Weskus Toerisme vir vyf dae die Weskus verken om nuwe toerismeprodukte blootstelling te gee.
Die besoek is moontlik gemaak deur Weskus Toerisme in samewerking met Wesgro en die Kaapse Toergidsvereniging.

“Die Covid19-pandemie het verskeie toerismeprodukte tot stilstand geruk en daarom het Weskus Toerisme verskeie bemarkings- en ontwikkelingsprogramme van stapel gestuur om die industrie ’n hupstoot te gee,” sê Heinrich Robertson, skakelbeampte van die Weskus Distriksmunisipaliteit.

Die toergroep se besoek het gefokus op die Kultuur- en Erfenisroete binne die Weskus. Onder die besienswaardighede wat die groep besoek het, tel die Diepkloof-skuiling tussen Redelinghuys en Elandsbaai, die Weskus Fossielpark, die !Khwa ttu-erfenissentrum naby Yzerfontein, Die Sevilla Rotskuns-roete en die Truitjieskraal-rotsformasies in die Matjiesrivier natuurreservaat.

Robertson het die groep toegespreek en gesê dit is ’n groot voorreg vir Weskus Toerisme om hul in die streek te ontvang. “Die nasionale inperking het ‘n massiewe impak op die toerismebedryf en die plaaslike ekonomie gehad.

“Ons sien die toerismebedryf as ’n groot dryfveer om plaaslike ekonomiese groei te bewerkstellig en daarom werk ons saam met verskeie agentskappe en rolspelers om soveel moontlik blootstelling aan ons diverse en unieke streek te gee.
“Ons hoop dat julle met groot groepe toeriste sal terug wees in die streek.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!