Kunstenaars in fondse vir Swartlander
Op ‘n spesiale fondsinsamelingskonsert vir Tracy Louw met haar swaer Jakkie en ander kunstenaars is daar vanmiddag meer as R40 000 op Riebeek-Kasteel ingesamel.
Tracy (50), wat in die Riebeekvallei saam met haar man Kosie (56) en haar gesin woon, is vroeër met kanker gediagnoseer.
Die bekende sanger Jakkie Louw het aangebied om by die Jolly Olive op Riebeek-Kasteel op te tree om geld vir sy skoonsuster in te samel.
Hy en die ander kunstenaars Wynand Windpomp (wat ook die klank behartig het), Ruan Theron (Ruki) en Azurdee Castello het gratis opgetree by die konsert genaamd ‘n Gig vir Tracy.
Met die toegangsfooie, CD-verkope, donasies asook ‘n paar items wat opgeveil is, is tussen R40 000 en R50 000 ingesamel.
Die konsert is ook direk op sosiale media vertoon en kykers kon ook donasies maak.