Carstens vat voor by nuwe Swartland Toerisme
Die nuwe toerismestruktuur vir die Swartland geld van vandeesmaand met Lizelle Carstens van Moorreesburg as nuwe toerismebestuurder vir dié streek.
Die Swartland Munisipaliteit het ‘n paar jaar gelede die proses begin om ‘n nuwe toerismemodel van stapel te stuur.
Konsultante Martin Jansen van Vuuren en Francois Viljoen het toe ‘n plan geskryf wat ‘n nuwe struktuur met ‘n maatskappy (sonder winsbejag) en die rasionalisering van kantore behels. Die Swartland Munisipaliteit bly steeds in terme van ‘n nuwe diensvlakooreenkoms die hoofbefondser van die nuwe struktuur met ‘n verhoogde bydrae.
Dié plan het nou in werking getree met ‘n nuwe span aan die stuur.
Die vrywillige direksie staan onder voorsitterskap van Tewie Roos van Darling Brew met Jolene Janse van Rensburg (Swartland Wyn- en Olyfroete), Michael Daiber (!Khwa ttu), Derek van der Riet (Olive Boutique) en Sean Cleary-le Grange (Riebeek-Kasteel) as mededirekteure.
Swartland Toerisme en Malmesbury se kantoor is steeds by die kruising tussen Kerkstraat en Voortrekkerweg op Malmesbury.
Die toerisme-kantoor op Moorreesburg wat dié dorp en Koringberg bedien het, is gesluit.
Die beamptes van die kantore op Riebeek-Kasteel en Darling, Ann Heyns en Dianne le Roux, bly in dié poste aan terwyl Yvette Collins die nuwe toerismebeampte op Yzerfontein is.
Die nuwe beampte vir Malmesbury is Sonja Philander. Sy sal ook as beampte vir Moorreesburg en Koringberg optree en die streekbestuurder bystaan met administratiewe take.
Carstens, oorspronklik van die Strand, het kommunikasie aan die universiteit op Potchefstroom studeer en daarna as joernalis gewerk in die Helderberg.
Sy was ook ‘n paar jaar in Korea waar sy Engels vir skoolkinders gegee het, voor sy haar op Moorreesburg by ‘n advertensie-onderneming aangesluit het.
Carstens het drie seuns en is getroud met Matthys, ‘n boer buite Moorreesburg.
Gepols oor die pad vorentoe vir toerisme in die Swartland, sê Carstens sy is opgewonde om deel van die nuwe struktuur te wees.
“Ek wil graag ook toerisme-ondernemings aanmoedig om deel te wees van die nuwe en opwindende rigting. Sluit aan as ‘n toerismelid en kom lewer ook jou insette in die nuwe toerismestrategie.”
In ‘n verklaring beklemtoon sy dat Swartland Toerisme se strategie en aktiwiteite belyn sal wees met dié van die Weskus Streekstoerisme-organisasie en Wesgro, die toerisme-agentskap vir die Wes-Kaap.
Voorsitter Roos sê in die ekonomiese klimaat waarin ons tans verkeer, is ‘n verenigde front en ‘n gekoördineerde benadering belangriker as ooit.
“Die registrasie van ‘n NWO vir toerisme maak absoluut sin, aangesien dit die maatskappy in ‘n beter posisie sal plaas om borge te werf en nouer met plaaslike owerhede saam te werk.”