Plan om sentrum, hospitaal laat in 2023 te open
Die eerste fase van werke aan die R600m kommersiële ontwikkeling op die noordelik grense van Malmesbury nader voltooiing met meer as 200 000 ton grond wat reeds geskuif is.
Die ontwikkeling met verskeie komponente sluit ‘n winkelsentrum, hospitaal, motorhandelaar, deurryrestaurant en kantoorspasie in. Daar word ook tans gewerk aan die ontwerp van ‘n vulstasie en die planne sluit ook mediese suites en aftreewoonstelle met mediese bystand in.
Só vertel Hein Ehlers, uitvoerende hoof van die Devmark-eiendomsgroep (die ontwikkelaars) aan dié courant.
Die voltooiing van die grootmaatgrondwerke was geskeduleer vir die einde van Julie en volgens hom is dit op skedule. Hy sê die gorndverskuiwing en kompaktering op die terrein “was bitterlik duur, maar die ligging teen die N7 vir sigbaarheid is baie goed. Jy kan nie beter kry nie.”
Die volgende fases is die oorblywende dienste wat paaie insluit en die konstruksie van die geboue.
Hy sê Dorpstraat Beleggings, wat ook die Korenvlij-sentrum in Voortrekkerstraat ontwikkel het, het nou ook die nuwe winkelsentrum wat by die nuwe De Zwartland Werf gebou gaan word, oorgeneem.
Volgens Ehlers maak die nuwe planne nou voorsiening vir ‘n sentrum van net onder die 15 000m². Dit is ongeveer twee keer die grootte van Malmesbury se De Bron-sentrum, tans die grootste sentrum in die Swartland.
Ehlers bevestig dat die ankerhuurders vir die sentrum Checkers, Food Lovers Market en Clicks insluit. Ook dat die Malmesbury Toyota-handelaarskap by die nuwe ontwikkeling sal open.
Die toegang na die nuwe ontwikkeling sal uiteindelik uit ‘n verbindingspan tussen Voortrekkerweg (‘n nuwe sirkel) en Piketbergweg wees. Planne maak ook voorsiening vir ‘n tweede toegangspad op die noordoostelike grens van die ontwikkeling vanuit Piketbergweg.
Dit is ook hier waar ‘n tydelike toegangspad vir konstruksieverkeer toegang sal verleen om in Oktober met die volgende fase van die bouwerk te begin.
Die sirkel op Voortrekkerweg, sê Ehlers, is een van die groot uitgawes. Die bouwerk daarvan sal na verwagting R19m kos en ‘n gedeelte daarvan sal deur die munisipaliteit gedra word. Hy verseker dat al sal die konstruksie van die nuwe toegang die verkeer by daardie “belangrike” noordelike toegang tot die dorp vertraag, sal die pad nooit gesluit word nie en sal daar tydelike omroetes gebou word soos nodig.
Naas die winkelsentrum van R350m sal bouwerk aan die nuwe hospitaal ook volgens beplanning later vanjaar begin. Die Samaritan-Hospitaal sal op die noordwestelike gedeelte van dié ontwikkeling verrys teen ‘n koste van R219m vir die gebou en ‘n verdere R110m om die hospitaal toe te rus.
Ehlers sê daar is reeds verskeie mediese spesialiste bevestig. Dit sluit in 3 algemene praktisyns, ortopedie (3), narkotiseur (3), oor, neus en keel (2), pediatrie (1) en ginekoloog (1).
“Die hospitaal sal aanvanklik in die eerste fase 88 beddens huisves met fasiliteit vir nog 40 later.
“Voorts sal dit ‘n intensiewe patologielaboratorium en die enigste MR-skandeerfasiliteit in die streek hê asook CTI-, Ultraklank- en Fluoroskopie-skandering.”
Hy sê die winkelsentrum moet volgens huidige beplanning teen September aanstaande jaar voltooi wees en die hospitaal ook voor die einde van 2023.
Kit Wolstenholm van die Samaritangroep het vroeër aan dié courant gesê die hospitaal sal 5 teaters hê waarvan vier in die eerste fase toegerus sal word.
Oor die totale ontwikkeling sê Ehlers dit sal met 45 000m² onder dak ongeveer die helfte van die totale onder dak-oppervlak van die Tygervallei-sentrum hê.
Die kantoorruimte-kompleks van 2 200m² sal bestaan uit sewe eenhede waarvan drie reeds verkoop is, voeg hy by. Dit sal volgens plan ook ‘n verdere vlak woonstelle hê en die koste van dié kompleks beloop R67,2m.
Op ‘n laer platform aan die oostekant van die hospitaal wil hulle mediese suites asook ongeveer 40 aftreewoonstelle (met wisselende mate van mediese bystand) bou. Hy verduidelik dat hulle ‘n ooreenkoms met ‘n mediese dienste-maatskappy gesluit het om dié bystand te verleen. “Dit is nie bedoel vir bedlêende inwoners nie, maar vir diegene wat bystand nodig het.” Basiese dienste kan twee etes en skoonmaakdienste en gereelde mediese besoeke insluit met opsionele ekstra opsies.
*Intussen is die ontwikkelaars ook “besig met ‘n lewensvatbaarheidstudie” vir die ontwikkeling van die aanliggende Malmesbury Skouterrein. Ehlers sê hulle sal na aanleiding van die uitkoms binne die volgende paar weke ‘n aanbod maak vir die skouterrein.
Hy wou nie veel meer verklap nie, maar sê hulle beplan daar kommersiële ontwikkeling van tussen 10 000m² en 12 000m². Hulle het reeds voornemende ondernemings (‘n verskeidenheid) wat daar sake wil doen.