Agri/BusinessFEATURED

Darling buit grote met gehoute jong Sémillon

23 Augustus 2022 (Embargo 23:59)

‘n Sémillon is vanjaar die Swartland se jongwynkampioen.
Dié wyn van Darling Cellars kom van ‘n wingerdblok hoog teen ‘n suidwestelike hang op die plaas Waterkloof.

Die droëlandbosstokwingerd is in 1993 aangeplant en word nog deur Oubaas Kirsten geboer.
Dit is 15 km van die Atlantiese Oseaan en Pieter-Niel Rossouw, hoofwynmaker, vertel daar is net ‘n kort vensterperiode waarin die wingerd geoes kan word vir die optimale pluktyd.
Daar hoog teen die hange kry die wingerd die direkte suidwestelike koue atlantiese lug wat bydra daartoe dat die gemiddelde temperatuur daar tussen 8 en 10 °C koeler is as by die meeste ander wingerde in die omgewing. Dit help dat die druiwe hul vrugtegeure baie beter behou.
Die Sémillon word nie as ‘n enkelkultivar gebottel nie, maar vorm deel van Darling Cellars se gewilde Lady Anne, ‘n versnit.

Die groep pryswenners en borge by Donderdag se jongwynskou. Voor sit Sakkie Smit (Porex), WP Dreyer (Riebeek Valley Wine Co se wingerdboukundige), Eljay Geldenhuys (Riebeek Valley Wine Co), Anthony Meduna (Darling Cellars) en Jaco Cockrell (Enartis). In die middel is Johan Conradie (Vinventious), Dewald Huisamen (Pulpit Rock), Reon Richter (Darling Cellars), Maggie Immelman (Darling Cellars), Pieter-Niel Rossouw (Darling Cellars), Jacques Theron (Riebeek Valley Wine Co) en Aldrin Soudien (Agrimark Darling). Agter staan Niel Esterhuyse (Santam), Marlee Malan (Vinochem), Nick Furness (Wine Machinery), Thembile Ntloko (Riebeek Kelder), Wilhelm de Vries (Allesverloren), Lukas Wentzel (Groote Post), Bertrum Titus (Darling Cellars), Themba Msitho (Riebeek Valley Wine Co), Robert Orchard (Malmesbury Toyota), Hugo Wentzel (Santam) en Johan van der Watt (ABSA).
Wynmaker Reon Richter en Oubaas Kirsten met die trofeë wat Darling Cellars met die gehoute Sémillon ingepalm het.

Op die Swartland Jongwynskou verlede Donderdag (die SA Jognwynskou het ‘n embargo geplaas op die bekendmaking van die uitslae) was dié gehoute Sémillon die klaswenner (Klas 17:07) en het die Enartis-trofee vir die Kampioen Ander Wit Kultivar ingepalm asook die Swartland se ABSA Groot Kampioen-trofee.
Darling Cellars kon, naas dié twee trofeë, ook met ‘n groot oes na hul trofeekas stap nadat vanjaar se Swartland Jongwynskou in die kelder se nuwe funksielokaal aangebied is.

Die res van hul trofee-oes is die Malmesbury Toyota-trofee vir die Kampioen Droë Wit Versnit (Klas 01:26 Sauvignon Blanc/Chenin Blanc), die WPK/KAAP AGRI-trofee vir die Kampioen Natuurlike Soetwyn (Klas 29:01 Sauvignon Blanc/Grenache), die Nexus-trofee vir die Kampioen Droë Rooi Versnit (Klas 49:19 Shiraz/ Cabernet Sauvignon/ Petit Syrah), die Kobus Basson-trofee vir die Kampioen Pinotage (Klas 70:27), die Wine Machinery-trofee vir die Kampioen Cabernet Sauvignon (Klas 56:02), die Séan Nieuwoudt-trofee vir die Kampioen Cinsaut (Klas 59:04), die Santam Landbou-trofee vir die Kampioen Ander Rooi Kultivar (Klas 76:11 Petit Syrah) asook die Vinochem-trofee vir die vyf beste inskrywings.

Die ander kelders wat trofeë ingepalm het, was die Riebeek Valley Wine Co wat beide die CJP Chemicals-trofee vir die Kampioen Chenin Blanc (Klas 08:17) en die Kotzé/Steyn-trofee vir die Kampioen Shiraz (Klas 74:21) verower het en Groote Post (Vinventions Blanc-trofee vir die Kampioen Sauvignon Blanc – Klas 14:17), Pulpit Rock Wines (Porex SA-trofee vir die Kampioen Merlot – Klas 63:38) en Allesverloren Estate Wines (SAIL-trofee vir die Kampioen Versterkte Wyn – Klas 84:06).

Charles Withington

Die gasspreker by die geleentheid, Charles Withington van The Darling Wine Shop, het ook die pryse oorhandig. Hy het verwys na die nasionale jongwynskou en die groot Generaal Smuts-trofee vir die SA Kampioen wat gerus weer ‘n slag huis toe kan kom, na die Swartland waar Smuts gebore is.

Die gesogte Generaal Smuts-trofee word reeds sedert 1952 aan die algehele kampioenwyn toegeken.
Die nasionale SA Jongwyn-wenners word Vrydagaand aangekondig. Daar was meer as 1200 inskrywings in 17 klasse. Die beoordeling met 39 beoordelaars het oor vyf dae – 25 tot 29 Julie – in die Johann Graue-saal by Nederburg plaasgevind.

Leave a Reply

error: Content is protected !!