Die Skaapstudiegroep van Agri Malmesbury het Vrydag hul 40ste kuddedag op die Malmesbury Skougronde gehou.
By dié geleentheid is verskeie rolspelers vereer en bedank vir hul bydraes oor die jare om dié dag tot een van die grotes op die streek se kalender uit te bou. Die huidige voorsitter, John Dürr, het by die geleentheid vir een van die oudvoorsitters, Sakkie Smuts, gevra om ‘n lamp aan te steek vir die 40 jaar-vieringe.
Die storie van die studiegroep, en later die kuddedag, begin op 21 April 1976. Toe het ‘n klompie skaapboere van Malmesbury bymekaar gekom en besluit om ’n studiegroep te stig. Die doel van die studiegroep sou wees om sake rakende die skaapvleis- en wolbedryf aan te spreek sowel as om navorsing op plaasvlak te doen en hierdie inligting aan boere in die Swartland te versprei.
Daar was destyds byna nie ‘n plaas in die Swartland waar daar nie met skape geboer is nie. Nadat die skaapstudiegroep gestig is, is daar onder leiding van die voorsitters Eben Schellink Sr., Gerry Damp en Andries Louw vir vier jaar lank vergaderings gehou en navorsing op plaasvlak uitgevoer.
Hierna het daar ‘n behoefte ontstaan om op ‘n georganiseerde wyse kuddeskape van verskillende plase met mekaar te vergelyk om te kyk hoe die kuddes met betrekking tot vleis- en wolproduksie verbeter kan word.
Die destydse BKB-beampte, Okkie Bosch, stel toe voor dat daar gekyk moet word na die moontlikheid van ‘n kuddekompetisie.
Die droogte van 1978 sowel as verskeie ander redes, het egter verhoed dat die voorstel aanvanklik tot uitvoering kon kom. Die eerste Jongooikompetisie in Malmesbury en in Suid-Afrika is uiteindelik die eerste Vrydag van Augustus 1981 onder leiding van Ben Fyfer op die dorp se rugbyveld aangebied. (Malmesbury was in daardie stadium sonder enige skoufasiliteite.)
Vanaf 1983 is die kompetisie na die huidige skougronde verskuif.
Stoeterye in die gebied sluit in: Walters Broers (Merino), Lammie en Hoffie Basson (Dohne), Daniel Slabber (Dohne), Jannie du Toit (SA Vleismerino), Eben Schellink (Merino), Hoffie van Blerk (Dohne) en Johnny Forbes – Vredesig (Dormers en Suffolk), Nuweland Dormers (Ewan Louw – huidige sekretaris van die skaapstudiegroep), Erika Hanekom se Rhenosterbosrug Dormers en Riekie Craven se Zabel Dormers.
Reeds van die beginjare het verskeie persone en instansies ‘n permanente rol gespeel in die totstandkoming van dié geleentheid. Onder hulle is BKB (Okkie Bosch en Kallie van der Merwe), Willem Agenbach (Logos Agvet), Kaapstad Lewendehawe Agentskap (John en Du Toit Dürr) en NWKV (A. Hugo en S. de Beer).
Die volgende lede het as voorsitters gedien: Eben Schellink Snr, Gerry Damp, Andries Louw, Ben Fyfer, Klaas Stoffberg, Wilhelm Dreyer, Sakkie Smuts, Theunis van Aarde, Lodewyk Lesch, Michiel Smuts Jnr, Llewellyn Louw, Pieter Hamman, Mike Bester, Pieter Dreyer, dr. Francois de Villiers en John Dürr.