Erfenismaand met propvol program gevier
September is Erfenismaand en by die Malmesbury Museum is daar vanjaar ‘n opwindende program propvol aktiwiteite om erfenis te vier en ook die kollig op die museum en dorp se erfenisskatte te skyn.
As deel van Erfenismaand kan inwoners ook die museum vir die hele maand gratis besoek. Die ure is op weeksdae van 09:00 tot 13:00.
Die Program vir September skop sommer al op die 1ste af met ‘n kunsuitstalling deur die kunsstudente van Schoonspruit Sekondêr. Toegang is gratis en dit sal tot 30 September duur.
Nóg iets waarna inwoners kan uitsien, is ‘n unieke bustoer deur die dorp om na die erfenisskatte te kyk. Wees ‘n toeris in jou eie dorp. Toergids Trevor Rinkwest is ‘n lopende ensiklopedie van geskiedenis. Die bustoer sal die 3de September op drie verskillende tye vanaf die museum vertrek. Die laaste bus vertrek om 14:00. Maak seker jy bespreek vooraf, want die sitplekke is beperk. (R20 per persoon)
Dan is daar op Vrydag 9 September ‘n spesiale Tee vir Bejaardes. Senior inwoners kan ‘n koppie tee/koffie met lekkernye geniet by die museum met al sy skatte (R60 per persoon). Bederf vir Ouma of Oupa en koop vandag vir hulle ‘n kaartjie.
Daar is ook ‘n naaldwerk-werkwinkel op Saterdag die 10de (09:00 tot 12:00) waar deelnemers gaan leer om hul eie kimino’s te maak. Bring jou eie naaimasjien. Die lap, gare, koffie en koek is ingesluit. (R500 per persoon).
Die daaropvolgende week op 16 September bied die museum ‘n manne-ontbyt aan. Kry voor werk ‘n heerlik gevulde croissant en ’n koppie koffie saam met ‘n unieke erfenisuitstalling. (R50 per persoon).
Een van die ander hoogtepunte op die program is die Erfenisdagvieringe op 24 September (10:00 tot 17:00).
Dan hou die museum ‘n braaidag met musiek en gesinspret met ‘n heerlike lam-braai. Die koste beloop R120 per persoon en sluit bykosse is. Daar is ook boereworsrolle vir die kinders (@R40). Bring jou eie piekniekmandjie, komberse en drinkgoed. Kaartjies is beperk. So bespreek vroegtydig.
Daar is ook vir die hele maand ‘n opwipwinkel met plaaslike produkte wat tydens die museumure besoek kan word en daar sal ook deurentyd ‘n koppie koffie of tee beskikbaar wees om heerlik te kuier.
Dit is die ideale geleentheid vir ‘n ieder en ‘n elk om by die museum te gaan kuier tydens Erfenismaand. Maak seker jy bespreek vooraf vir die geleenthede by/of rig enige navrae per whatsapp aan 073 299 0581.