Premier besoek Swartland-ontwikkelings
Bouwerk aan die eerste van die tweelingvulstasies tussen Malmesbury en Moorreesburg langs die N7 vorder om oor ongeveer twee maande te begin sake doen.
Op ‘n besoek aan die Swartland en verskeie nuwe ontwikkelings wat hier plaasvind, het die Wes-Kaap se premier, Allan Winde, gister ook dié terrein besoek.
Hy was vergesel van Swartlander Anton Bredell, die provinsiale LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling.
Hulle was gaste van die Burgemeester, Harold Cleopas. Die waarnemende Munisipale bestuurder, Philip Humphreys, en verskeie raadslede het die groep vergesel. Humphreys neem waar as munisipale bestuurder terwyl Joggie Scholtz aansterk ná ‘n heupvervanging.
By die vulstasies, ongeveer 10km noord van Malmesbury, hoop mede-eienaar Natie Coetzer dat hul die eerste een (wes van die N7) teen die die tweede helfte van November sal kan open. Bouwerk aan die tweede een sal eersdaags begin.
Beide vulstasiekomplekse sal ook vragmotorhawens met fasiliteite vir vragmotorbestuurders, ‘n OK-winkel, ‘n Steers-restaurant en ‘n vida e caffè hê.