Solo Studios skitter weer ná Covid
Met die hoogste besoekertal en ook ‘n rekord aan kunsverkope by vanjaar se Solo Studios, is die demper wat die Covid-pandemie die afgelope twee jaar op dié jaarlikse gebeurtenis geplaas het nou afgeskud.
Die organiseerder Klaus Piprek het vandeesweek op ‘n nabetragtingsessie gesê 2019, die jaar voor die pandemie, was ‘n goeie jaar en toe het die syfers goed gelyk. Die pandemie was ‘n groot slag en in 2020 moes dit na Desember verskuif word en verlede jaar kon dit nie plaasvind nie.
Maar nou het “ons 25 persent meer kaartjieverkope gehad as in 2019 en ook ‘n wesenlike groei in kunsverkope vergeleke met daardie jaar”.
Piprek sê die Riebeekvallei en die groter Swartland het weer baie gebaat by dié naweek van 26 tot 28 Augustus en veral sommige ondernemings soos restaurante het groot voordeel getrek.
Die positiewe impak van Solo Studios op die breër gemeenskap van die Riebeekvallei is ook op die sessie bespreek.
Volgens Piprek dui die kaartjieverkope vanjaar op meer as 1 200 besoekers en is daar bykans R2,4m se kuns verkoop.
Hy het opnuut die dringendheid van ‘n ankerborg of belegger in Solo Studios beklemtoon om in die toekoms die risiko vir die organiseerders te verklein.
Piprek het ook aangedui dat hy die projek aan nuwe organiseerders wil oorgee omdat hy en sy gesin nou na ander sakegeleenthede elders kyk.
Hy het by die geleentheid ook donasies aan die For Life Centre op Riebeek-Wes en die Riebeek Valley Steelband oorhandig.