Agri/BusinessFEATURED

Cleland se poskantoor lyk weer nuut

Die Malmesbury Poskantoor is een van die dorp se bekende bakens en erfenisskatte.
Dit is in 1930 ontwerp deur die argitek John Stockwin Cleland en dus ongeveer 90 jaar oud.

Jare gelede, voor Voortrekkerweg verbreed is, was daar ‘n ry geboue aan die westekant – tussen die straat en die poskantoor.

Die ry geboue is nog op dié lugfoto te sien.

Die besondere poskantoorgebou wat, soos baie ander staatsgeboue in die streek, nie deur die eienaar in stand gehou is nie, is pas met ‘n inisiatief en fondse van inwoners en sakelui opgeknap om weer nuut te lyk.
Die inisiatief is deur die Malmesbury Sakekamer gekoördineer.

Die Malmesbury Poskantoor spog, danksy ‘n inisiatief van sakelui, met ‘n splinternuwe baadjie.

Cleland was destyds die hoofargitek van die Departement Openbare Werke.
Hy was ‘n boorling van Staffordshire in Engeland en het op 23 jarige ouderdom (1902) as argitek na Suid-Afrika gekom nadat hy onder ervare argitekte gewerk het.
Hy was eers in private praktyke werksaam voor hy in Maart 1909 as tydelike argitek/tekenaar in die Departement Openbare Werke aangestel is.
Daarna het hy in Oktober 1920 die hoofargitek van die departement geword, ‘n pos wat hy beklee het tot 1932. Hierna was hy Sekretaris van Openbare Werke tot met sy aftrede in 1939.

‘n Argitekstekening (westekant) van 1930.

Ander geboue wat deur en onder Cleland ontwerp is, sluit in die Ou Residensie op George, die Skoolkliniek in Johannesburg (1919), Universiteitskollege in Pietermaritzburg (mede-argitek -1910), die Glen Landboukollege, Cedara Kollege, Groote Schuur Hospitaal (1932), Kaapstad Landdroshof, Nasionale Kunsgallery (1ste gedeelte), Oos-Londen-Poskantoor (1925), Pretoria Poskantoor (1909), Pretoria Akademiese Hospitaal, Johannesburg Skoolkliniek, Hooggeregshof Johannesburg (1914), Nasionale Natuurhistoriese Museum (voorheen die Transvaal Museum – 1910), Helpmekaar Seunskool in Johannesburg (1926) en die Oliewenhuis-kunsmuseum (voorheen die ampswoning vir die goewerneurs-generaal en later die staatspresidente ten tyde van hul besoeke aan Bloemfontein).

Terwyl Cleland hoofargitek was, het die regering ‘n beleid van openbare beskerming van die kunste ontwikkel vir ‘n ongeëwenaarde tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

‘n Foto en kunstenaarskets van John Stockwin Cleland. (Die name van die fotograaf en kunstenaar is ongelukkig nie beskikbaar nie)

Die gebruik van voortreflike materiale vakmanne vir kerfwerk, beeldhouwerk, rooi baksteen, keramiekteëls en terracotta het bygedra tot dié onvervangbare openbare skatte van daardie tydperk.

‘n Skets van destyds vir die kunswerk op die suidelike gewel.

‘n Deel daarvan kan ook in die Malmesbury Poskantoor gesien word. Let op dat al die kunswerke op die gewels nie eenders is nie.
Cleland het ‘n besondere belangstelling in die historiese geboue van Suid-Afrika gehad en was ‘n stigterslid van die Historiese Monumentekommissie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!