Groot Cavalier-vleisgroep belê op Malmesbury
Die Cavalier-groep, een van die grootste vleisgroepe in die land met sy hoofkwartier by Cullinan, gaan sy eerste Wes-Kaapse aanleg in Malmesbury bou.
Só sê Anton Chait van die Newport Ontwikkelingsgroep.
“Cavalier het twee erwe (19 723m²) in fase twee van die Schoonspruit Nywerheidspark bekom om ‘n nuwe kleinhandelvleisverpakkingsaanleg vir ’n bekende nasionale kleinhandelaar te vestig.”
Hercules Weyers van Pam Golding Eiendomme het die transaksie beklink: “Die belegging deur Cavalier in die Swartland is ‘n aansienlike hupstoot vir die gebied”.
Die groep onder die stigter en hoofuitvoerende beampte dr. Kabols le Riche, bestaan uit vyf maatskappye – Cavalier Livestock, Cavalier Feeders, Cavalier Abattoir, Cavalier Foods en die houermaatskappy.
Sanlam het ‘n ruk gelede deur ‘n beleggingsarm die meerderheidsaandeel in die groep bekom.
Cavalier verwerk ongeveer 300 beeste en 1800 skape per dag en is tans een van slegs twee goedgekeurde rooivleisverskaffers aan die Woolworths-groep. Hulle is die grootste werkgewer in die Cullinan-distrik met meer as 1400 werknemers.
Die groep se finansiële hoof, Louis Viviers het voorheen op Malmesbury gewoon.
Hy sê luidens ‘n verklaring: “Ons besluit om in Malmesbury te belê, is deel van ons langtermynstrategie om geografies na die res van die land uit te brei en ons waardeketting te versterk.
“Malmesbury se ligging naby aan Kaapstad en aangrensend aan die nuutgeboude N7-dubbelpad, gekombineer met ’n goed bestuurde plaaslike munisipaliteit, was deurslaggewend in ons beleggingsbesluit.”
Viviers het aan dié courant gesê die konstruksiewerk vir die nuwe fabriek moet nou op tender uitgaan en hulle wil dan so spoedig moontlik daarna begin bou.
Die eerste fase van die fabriek sal op die een erf van ongeveer 10 000m² opgerig word en die rede waarom hul ook die tweede aanliggende erf gekoop het is “definitief vir ‘n fase twee” in die toekoms.
As alles volgens plan verloop wil hulle die eerste rooivleisverpakkingsfabriek dan in Januarie 2024 open. Van die toerusting moet van oorsee af ingevoer word.
Viviers sê dié fabriek “sal so 80 werke skep”. Hy wou nie op rekord bevestig wie die nasionale kleinhandelaar is vir wie die vleis verpak sal word nie.
Die perseel is geleë langs Schoonspruitweg wat volgens die ontwikkelingsplanne in die toekoms ook verleng sal word tot by die Abbotsdale-wisselaar.
Oor die werksaamhede by die fabriek sê Viviers dit is net vleisverpakking. “Mense hoef nie te skrik nie. Dit is glad nie ‘n abattoir of so iets nie.”
Die verwerkte vleis sal in kartonne van hul fabrieke in Gauteng gebring en dan in finale pakkies geplaas word vir die winkelrakke.
Hy sê hulle sal ook ander plaaslike vleisondernemings soos Roelcor op Malmesbury ondersteun.
Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder van die Swartland Munisipaliteit, sê die Swartland se beleggingspotensiaal is sekerlik verhoog met die verdubbelling van die N7. Die onlangse ontwikkelings wat reeds ‘n aanvang geneem het en dit wat in die pyplyn is, is beslis ‘n bewys daarvan.
“Die feit dat die groeipotensiaal van ‘n dorp soos Malmesbury hoog aangeslaan word, is omdat daar goeie infrastruktuur is en kompeterende tariewe waar besigheid kan floreer.
”Laasgenoemde, veral as dit vergelyk word met ander moontlike beleggingsgebiede.
“Ons het nog altyd geglo dat goeie en skoon regering ‘n munisipaliteit se beste bemarking is vir beleggers wat wil weet dat daar goeie infrastruktuur is waar dienste op ‘n volhoubare basis gelewer word,” aldus Schotz.
“Voeg daarby ‘n politiek stabiele omgewing en dan het jy ‘n wenresep.”
Geoff Chait, uitvoerende hoof van die Newport-groep, het gesê hulle is verheug dat Cavalier Malmesbury as hul voorkeurstandplaas gekies het en hy verwag ook dat ander nasionale besighede hul voorbeeld