Riebeek skud vere reg vir kunsmaal met talle gange
Behalwe bekend vir onder meer druiwe, wyn en olywe en gewild vir troues, het die Riebeekvallei die laaste klomp jare ook al meer gewild begin raak as ‘n kunsbestemming.
Die beeldende en uitvoerende kunste floreer en hierdie komende naweek is weer ‘n hoogtepunt op die vallei se kalender propvol kuns en vermaak.
Reeds vir ‘n klompie jare nou woel dit die eerste naweek van elke maand meer as gewoonlik en hierdie naweek vind die 3de Art Unlocked in samewerking met Arts Town Riebeek Valley plaas.
Met gratis toegang en 23 kunstenaars, vier studios en agt groepuitstallings kan kunsliefhebbers uitsien na ‘n kunsnaweek – Saterdag en Sondag – waar die kunste weer behoorlik “ontsluit” word.
Onder die deelnemende kunstenaars en gallerye tel Amy Moses, Bronwyn Boyd, Christopher Murphy, Gallery 7 on Plein, Garth Meyer, Gordon Williams, Helen Weber, Ivan Kirstein by Maria, Julia Buss, Kevan Moses, Lauren Robinson, Li Nepgen, Lizette Visser, Liz McQueen, Louis Nel, Louisa Gerryts, Madel Fourie, Mizizi Gallery, Nico Rens, Pieter van der Merwe, RK Contemporary, Rudolph Willemse, Sharon Bischoff, Tanya Majo, Val Green en Wiehan De Jager.
Besoek gerus ook die uitstallings by Aardvark Eats, Chakana Heart Centre, Riebeekvallei Museum, Roes, Die Royal Hotel, Hoofstraat Conceptual en The Alchemist.
*Art Unlocked skop Saterdag om 10:00 af en duur tot Sondag om 16:00.
Soek net die Art Unlocked-bordjies, loer in, kry ‘n kaart en begin jou “kunstoer”.
Die naweek skop eintlik al Vrydagaand af met kinderteater en die aanskakel van die groot kersboom op die plein in Riebeek-Kasteel se liggies.
Vrydagaand se kinderteaterproduksie by die Royal Arts Town-amfiteater, How to Hold the World, kom uit die pen van Juliette Rose-Innes en maak deel uit van Rata se derde somerseisoen.
Hoe hou ons hierdie pragtige wêreld vas en hys dit op? ‘n Boeiende vertoning met ‘n positiewe boodskap en groot pret vir die jongspan.
In die gees van die feesseisoen is dit ook die gulde geleentheid om te gee en kinders die kans te bied om kinderteater te ervaar. Dit is deel van Rata se Stuur ‘n kind na die teater-program. Vir slegs R70 kan jy ‘n kaartjie borg as geskenk vir ‘n kind om hierdie vertoning by te woon, gevolg deur die aansteek van die liggieboom op die plein waar Kersvader lekkernye sal uitdeel.
Verlede jaar het Rata 120 geborgde kaartjies gehad vir hul kinderproduksie en hoop om vanjaar by 150 te kom.
How to hold the world
Vrydag 2 Desember om 19:00
Kaartjies kos R70.
Skakel of WhatsApp 082 851 1262.
Die program op Riebeek-Kasteel se plein begin Vrydagaand reeds om 18:00 met die verwelkoming. Daarna tree sanggroepe van laerskole en Hip Hop-dansers van die For Life-sentrum op. Een van die vallei se gewilde sangers, Azurdee Castello, tree ook op voor die liggies volgens die program om 20:00 aangeskakel word.
Intussen is daar ook weer die jaarlikse Kuns vir liefdadigheid-uitstalling Vrydagaand by RK Contemporary.
Spesiale werke van top-kunstenaars word vir R1000 en minder van die hand gesit ten bate van liefdadigheid. Die opbrengs word gedeel (50% aan die kunstenaar, 25% aan Raw – Riebeek Animal Welfare en 25% aan die For Life-sentrum).
Saterdag is dit tyd vir die Riebeekvallei mark op die plein en Saterdagaand om 18:00 is Mutton Hour (13 uitverkoopte vertonings by die Toyota US Woordfees) by Aardvark Eats.
In Mutton Hour bring van ons voorste teaterlui kort stories oor liefde, verlies, krokodille en katte na die verhoog. Lekker lawwe verhale vol humor, musiek en kamishibai (die Japannese tegniek van geïllustreerde storievertelling).
Met die bekroonde Wilhelm van der Walt (7de Laan, Ekstra Medium, Donkerbos) en Cintaine Schutte (Fynskrif, Dinge van ‘n kind, Ekstra Medium) en regie behartig deur Gideon Lombard (Suidooster, Die reuk van Appels)
Tydsduur: 60 min
Geen o.16’s (Taal)
Kaartjies kos R250 per kaartjie.
Om jou sitplek te bespreek, kontak Armand by 0795068196.
Sondag trek die vallei se nou reeds gewilde Poetry Jam ‘n nuwe baadjie aan om voortaan maandeliks by die Riebeek Valley Wine Co se Emporium plaas te vind.
Die Poetry Jam by die Royal Arts Town-amfiteater is ook al vir meer as twee jaar deel van die kunsteprogram in die vallei en betree van dié naweek af onder leiding van Donker Jonker en Tamzin Lovell-Miller ‘n nuwe hoofstuk met die nuwe lokaal. Hier kan die gehoor voortaan (op die eerste Sondag van elke maand) die interessante en artistieke aanbieding van poësie van beide plaaslike en nasionale digters geniet.
Die eerste aflewering van die nuwe Poetry Jam is Sondag 4 Desember om 11:30. Daar is ‘n program asook “Open Mic”-gleuf waar enigiemand genooi word om ‘n oorspronklike werk aan te bied. Toegang is gratis.
Sondag is daar ook ‘n spesiale gas wanneer die bekroonde digter Sindiswa Busuku-Mathese van haar werk sal voorlees.
Sy het in 2018 met haar bundel Loud and Yellow Laughter (Botsotso, 2016) die Ingrid Jonker-prys, wat in alternatiewe jare aan die beste debuutdigbundel in Engels of Afrikaans toegeken word, gewen.
By RK Contemporary open hul volgende kunsuitstalling, Lush, ook Sondag.
Werke van Jenny Parsons, Bastiaan van Stenis, Hannalie Taute, Ade Kipades, Kim Black, Candice Dawn Blignaut, Claudia Gurwitz, Katja Abbott, Grace Kotze, Sonja Kastner, Gretchen Crots, Laura Wenman, Lauren Shatall, Madelein Marincowitz, Monique Day-Wilde, Rix Wellman en Alex Hamilton.
Met die tema van oorvloed, weelde, weelderige groei, heerlikheid en sensualiteit. Lush vier die somer met die klem op die kleur Groen – skakerings van groen. Onder meer lemmetjie en smarag. Kruisement, olyf, salie – salig.
Die uitstalling duur tot 26 Februarie.