CommunitySports

Wesbank se voorlaaste hekkie vir Bolandtitel

Die lang rugbyseisoen vir die top-klubs in die Boland staan einde se kant toe en Wesbank het sy oog op die kampioenskapstitel.
Dié Swartlandse klub het Saterdag nog een hekkie om oor te steek as hul hul plek in die eindstryd om die Bolandtitel wil bespreek.
Wesbank het bo-aan die punteleer geëindig in Afdeling A van die Boland Top 12-kompetisie en ook die meeste ligapunte van al twaalf spanne ingesamel.

As wenner van Afdeling A pak dié Swartlandse span Saterdag vir Bella Vista (die naaswenners van Afdeling B) in die laaste wedstryd op die Boland Stadion (A-veld) op Wellington.
Die ander klub wat die Swartland in die Top 12-kompetisie verteenwoordig het, was Darling. Hulle het in Afdeling B meegeding en vierde geëindig.


Wesbank se pad na die halfeindronde het só verloop.
1ste wedstryd (tuis) teen St. Helenabaai (Wesbank wen 41-37)
2de wedstryd (tuis) teen Citrusdal (Wesbank wen 39-31)
3de wedstryd (weg) teen Roses United (Roses United wen 25-23)
4de wedstryd (tuis) teen Hawston (Wesbank wen 32-30)
5de wedstryd (weg) teen Rangers Robertson (Rangers wen 36-30)

Tyreec Liedeman van Wesbank is onder die genomineerdes vir die toekenning as Speler van die Top 12-toernooi asook as Voorspeler van die Toernooi. Dié wenners word na afloop van die toernooi aangewys.
Gavern Skippers van Wesbank is genomineer vir die Agterspeler van die Toernooi-toekenning. Hy het tot dusver in die vyf wedstryde 63 punte vir sy klub aangeteken en is tans as puntemaker in die tweede plek naas Bella Vista se Duran Nasson op 71.

Saterdag se wedstryd op Wellington begin om 16:00. Die ander halfeindstryd (Saldanhabaai teen Hawston) skop om 13:30 af.
Dit is ‘n vol dag van rugby met van die ander ligas se halfeindstryde wat ook beslis word.
10:00 Young Warriors vs Primrose (B veld)
11:50 Wagenmakersvallei vs Alberts (B veld)
13:40 Riebeek United vs Bonnievale Blue Birds (B veld)
11:30 Wellington vs Riviersonderend (A veld)
13:30 Saldanha vs Hawston (A veld)
16:00 Wesbank vs Bella Vista (A veld)
Die hekke open reeds om 08:00.
Toegang beloop R30 vir volwassenes en kinders 12 jaar en ouer en R10 vir kinders onder 12 jaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!