Agri/BusinessFEATURED

Skaapstudiegroep bring hulde aan geliefde boer

Dit is met groot leedwese en hartseer dat die Skaapstudiegroep van Agri Malmesbury moet afskeid neem van Pieter Dreyer wat vir meer as ‘n dekade ‘n baie getroue en gewaardeerde lid was van die Skaapstudiegroep.

Só het John Dürr, voorsitter van die studiegroep, gesê né die skielike dood van Pieter Dreyer wat onlangs sy plaas Goedeverwagting langs die Malmesbury-Paarlpad (R45) verkoop het.
“Pieter het ook ‘n termyn as voorsitter van die studiegroep gedien, toe dit ‘n uitdaging was om ‘n opvolger vir die vorige voorsitter te kry.
“Hy was veral instrumenteel en opgewonde om te help met die skep van ‘n geleentheid om die jeug se belangstelling in skaapboerdery te prikkel met die ‘stockman’-kompetisie op die jaarlikse kuddedag.

Pieter Dreyer (heel regs), organiseerder van vanjaar se ‘stockman’-kompetisie saam met die wenners Jaco Vlok (middel) van die Boland Landbouskool (2022 se Stockman van die Jaar) en van links Mac Jordaan (4de, Hoërskool Porterville), Marius Smith (3de, Augsburg Landbougimnasium), Ben le Granche (2de, Boland Landbouskool), Breyton Millford (Agri Expo – beoordelaar) en Joubert van der Merwe (Augsburg Landbougimnasium – beoordelaar).

“Met die veertigjarige vieringe van die kuddedag vroeër vanjaar het Pieter die ‘stockman’-kompetisie op sy eie skouers geneem en met groot entoesiasme en deeglikheid behartig. Net soos ons hom geken het.

“Ons as studiegroep sal Pieter onthou as ‘n netjiese boer wat lief was vir sy mense, sy boerdery en wat sy kant gebring het in die strukture van georganiseerde landbou waar hy gedien het.
“Ons sal Pieter se getrouheid en sy droë humor tydens vergaderings mis en gun hom die ewige rus.
“Ons opregte simpatie en meegevoel aan Ilse, WP en Jaco en ons is dankbaar dat ons bevoorreg was om hom met julle te deel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!