CommunityLatest

S Mun marsjeer voor met “reaksie-eenheid”

Die Swartland Munisipaliteit het vandag die eerste reaksie-eenheid ooit in die Wes-Kaap geloods.
Só lui ‘n persverklaring van dié plaaslike owerheid.

“Die Reaksie-eenheid is ‘n loodsprojek in die Wes-Kaap en sal nie net die Swartland bedien nie, maar die hele Weskus deur middel van oorgrensooreenkomste.
“Die Reaksie-eenheid is moontlik gemaak deur befondsing wat van die Wes-Kaapse provinsiale regering ontvang is en spreek die steeds groeiende kommer oor veiligheid en sekuriteit in die streek aan. Die stigting van hierdie eenheid is deel van die Swartland Munisipaliteit se deurlopende pogings om veiligheids- en sekuriteitsmagte plaaslik en in die streek te ondersteun en ’n veiliger omgewing vir al ons inwoners te skep. Die eenheid bestaan uit 20 beamptes wat sal help met, wetstoepassing, sigbare polisiëring asook broodnodige ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens regoor die Weskusdistrik sal verleen, soos en wanneer dit versoek word.

Naaslinks: Reagen Allen, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, het die nuwe eenheid geïnspekteer. Hy is vergesel van die Swartlandse burgemeester, Harold Cleophas (heel links) en Neville Matthys, hoof van Swartland se wetstoepassingsdienste.

VREDESBEAMPTE
“As deel van ons pogings en fokus om geleenthede vir inwoners te skep, is al die beamptes uit die Swartland-streek gewerf. Hulle het die afgelope drie maande vredesbeampte- en verkeersbeampteopleiding ontvang.”
In die verklaring sê die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harold Cleophas, die reaksie-eenheid is ‘n waardevolle toevoeging tot die veiligheid en sekuriteit van Swartland en die Weskus.

“Dit vul die aantal mense wat ons op enige tydstip sal kan ontplooi aan en dra by om sigbare polisiëring te verhoog. Verhoogde sigbare polisiëring het bewys dat dit misdaad in ons gemeenskappe verminder en ons is dankbaar vir die provinsiale tegering se ondersteuning in hierdie verband.

Die nuwe “reaksie-eenheid” op parade.

“Mannekragtekorte is iets wat veiligheid- en sekuriteitspogings ernstig belemmer. Die ontplooiing van 20 ekstra beamptes in ons gemeenskappe, veral terwyl die Feesseisoen nou afskop, behoort ‘n groot troos vir ons plaaslike inwoners en besoekers te wees.”

Reagen Allen, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, het die bekendstelling van die “reaksie-eenheid” bygewoon
Hy het “beklemtoon dat inter-regeringsamewerking van kritieke belang is vir die sukses van wetstoepassing. Allen het die Swartland Munisipaliteit geloof dat hulle leiding geneem het en die geleentheid aangegryp het om hierdie nuwe “reaksie-eenheid” te stig en te huisves en sodoende groter streeksamewerking en wetstoepassing vir die hele Weskus sal fasiliteer.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!