EntertainmentLatest

Feesseisoen skop op hoë noot af op Riebeek

Die Riebeekvallei het die feesseisoen afgeskop met ‘n propvol eerste naweek in Desember.
Die naweek het reeds Vrydagnamiddag vinnig momentum gekry met ‘n kinderteatervertoning by die Royal Arts Town-amfiteater en ‘n program op Riebeek-Kasteel se plein.

Daarna het dit behoorlik gewemel op die plein in afwagting van die aanskakel van die groot kersboom se liggies (daar is eintlik twee kersbome) en die koms van Vader Kersfees.

Die kersboom se liggies is Vrydagaand vir die seisoen aangeskakel

Die program is in samewerking met die Riebeekvallei se Rotariërs aangebied en hondere pakkies is aan kinders op die plein uitgedeel.
Saterdag het die kunste verder vlamgevat met Art Unlocked waar kunstenaar in die vallei vir twee dae individuele en gesamentlike uitstallings gehou het.

‘n Besoeker by die uitstalling by Gallery 7 on Plein

Dit was ook die gebruiklike maandelikse mark op die plein en die aand was daar ‘n verhoogstuk Mutton Hour by Aardvark Eats asook ‘n fondsinsamelingsbyeenkoms ten bate van die For Life Centre op Riebeek-Wes.

Sondag is Art Unlocked voortgesit en die nuwe groepuitstalling Lush by RK Contemporary is deur die bekroonde digter Sindiswa Busuku-Mathese geopen.
Sy het ook deelgeneem aan die Poetry Jam wat vir die eerste keer by die Wynemporium van die Riebeek Valley Wine Co gehou is.

Die bekroonde digter Sindiswa Busuku-Mathese (regs) open die nuwe uitstalling Lush by RK Contemporary. Die utstalling duur tot 26 Februarie ’23. Agter staan Jenny Parsons, een van die deelnemende kunstenaars aan dié uitstalling.

Die nuwe unieke MCC* (Méthode Cap Classique)-winkel op Riebeek-Kasteel, The Bubbly Boutique, het ook die naweek sy deure geopen. Dit sal van Donderdae tot Sondae sake doen.

*Méthode Cap Classique of kortweg MCC, is die Suid-Afrikaanse weergawe van Champagne – dit is Suid-Afrikaanse vonkelwyne wat volgens die tradisionele Champagne-metode gemaak word Die term word sedert 1992 gebruik ná die verbod op die gebruik van die woorde Champagne en Champenoise vir enigiets anders as die bottelgegiste wyn uit die Champagne-streek in Frankryk.

Leave a Reply

error: Content is protected !!