Vinnige 2Africa word by Yzerfontein geland
As als volgens plan verloop sal die ondersese datakabelstelsel, 2Africa (Wes), môre (Dinsdag 6 Desember) by Yzerfontein aan land gebring word.
Die kabelstelsel met enorme kapasiteit sal na verwagting in 2023/24 in werking gestel word. Dit het ‘n ontwerpkapasiteit van tot 180 Tbps – sover vasgestel kan word meer as die totale gekombineerde kapasiteit van alle ondersese kabels wat Afrika vandag bedien.
Dit is ook tans die langste van sy soort in die wêreld en sal 33 Afrika-, Asiatiese en Europese lande via 45 000 kilometer kabel en 46 landingspunte verbind. Die konsortium agter 2Africa bestaan uit verskeie maatskappye, insluitend Meta, China Mobile International, MTN Global Connect, Orange, Vodafone, Egypt Telecom Saudi Telecom Company en die West Indian Ocean Cable Company.
Die kabel sal, soos die Wes-Afrika-kabelstelsel (WACS) in 2011, op die noordelike gedeelte van die hoofstrand aan land getrek word. Dit sal daarvandaan ook die WACS se ondergrondse kanaal gebruik tot by die bestaande WACS-kabellandingstasie.
Alcatel Submarine Networks (ASN) is gekontrakteer om die 2Africa (Wes)-kabelstelsel te verskaf en te installeer om die weskus van Afrika met Europa en die Verenigde Koninkryk te verbind, met die Suid-Afrikaanse landing by Yzerfontein.
Dit sal deur MTN as die Suid-Afrikaanse landingsvennoot bedryf word. Ondersese telekommunikasiekabels is belangrik vir internasionale telekommunikasienetwerke, wat byna 100% van transoseaniese internetverkeer regoor die wêreld vervoer.
Internetverkeer groei teen ‘n geweldige tempo en die doel van hierdie projek is om ‘n optiese vesel ondersese kabel te installeer om internasionale hoëspoedverbinding en betroubaarheid te verskaf.
Die kabel, insluitend pantsering, lyk soos ‘n tuinslang met ‘n benaderde deursnee van 35 mm. Aangesien die ligseine krag verloor op pad langs die vesels, word ondersese herhalers (versterkers) langs die kabel geïnstalleer om die sein te versterk. Hierdie herhalers is etlike kilometers van die kus geleë.
Die kabelroete loop langs die Weskus van Afrika in diep water (gewoonlik parallel met die kuslyn) en nader Suid-Afrikaanse kuswaters vanuit die noorde (dit wil sê vanaf Namibiese waters).
Die 2Africa (Wes)-kabelstelsel volg die belyning van die bestaande WACS.
Waar die kabelroete rigting verander om die kuslyn van Yzerfontein te nader, word die kabel onder die sanderige seebodem van die vlakker seewaters begrawe. Dit word tipies gedoen met die gebruik van ‘n spesiaal ontwerpte ploeg wat deur die kabelskip op die seebodem beheer word. Die kabel word dan vanaf die skip na die ploeg gevoer wat die kabel effektief tot ‘n diepte van ongeveer 1 tot 1,5 meter begrawe. Dit word gedoen om beskerming aan die kabel te bied teen die risiko van skepe se ankers en visvangaktiwiteite.