Crous Fotograaf van die Jaar; vat nou voor
Een van die Swartland Fotografieklub se fotograwe wat vanjaar uitstekend gevaar het met haar fotokuns en ook verskeie nasionale en internasionale erkennings gekry het, Ciszanne Crous van Piketberg, is as die klub se Algehele Fotograaf van die Jaar aangewys en ook tot nuwe voorsitter verkies.

Crous het in die afgelope jaar 51 goud- en merietepunte met haar foto’s verdien asook 14 internasionale salonaanvaardings en 23 nasionale salonaanvaardings ontvang.
Die klub se toekenningsaand het op Piketberg plaasgevind. Die uittredende voorsitter, Peter Hardcastle, het die pryse oorhandig.
Lucas Olivier van Malmesbury is as Opkomende Fotograaf van die Jaar aangewys. Dié toekenning gaan aan ‘n nuwe lid wat die meeste klubpunte in die jaar verwerf het.



Daar is ook vanjaar ‘n toekenning vir die Beste Vordering gemaak. Dit is gedoen deur die gemiddelde punt verwerf per foto in 2022 te vergelyk met die gemiddelde punt in 2021.
Soreen Gouws van Piketberg het dié toekenning vir die Beste Vordering ontvang.
In die afdelings vir foto van die Jaar – Digitaal en Gedruk – het drie onafhanklike eksterne beoordelaars, André Stipp, Niel Goslett en Lesley Parolis, die top-inskrywings van die jaar beoordeel.

Meesterfotograaf Herman Olivier van Malmesbury se Lanner Falcon In Action is as die digitale wenner aangewys met Ciszanne Crous se Tango 5 in die tweede plek en Theuns Olivier van Tzaneen se Geurige Bestanddele in die derde plek.



Die wenner van die Pictorex Afdruk van die Jaar 2022 was Antoinette Muller van Aurora met haar foto Waar is die haas. Herman Olivier het die tweede en derde plekke opgeraap met onderskeidelik Bo-Kaap Beauty en Swallow Tailed Bee-Eater.
Daar word ook jaarliks ‘n Junior en Senior Fotograaf van die Jaar aangewys. Dié toekennings het vanjaar gegaan aan Louise Spittal (Junior Fotograaf van die Jaar) van Malmesbury en Herman Olivier (Senior Fotograaf van die Jaar).
Olivier het ook die tweede plek ingeneem in die afdeling vir Algehele Fotograaf van die Jaar gevolg deur Theuns Olivier in die derde plek.

In die klub se maandkompetisie kon lede ‘n eie keuse-paneel van 5 foto’s onder een tema inskryf.
Lucas Olivier se paneel was getiteld Sunsets. Hy was die maandwenner van die junior afdeling asook die algehele wenner van die aand met sy foto: Magnificent Sunset Sky.

Herman Olivier het ‘n paneel getiteld Birds ingeskryf. Hy het die Senior afdeling asook die afdeling vir gedrukte foto’s gewen met sy foto The snake hunter.

Hier is ‘n paar van die ander foto’s wat 24 punte en meer uit 30 behaal het.








