Nóg 12 grafte by kerk sit halt aan bouwerk
Johan Viljoen
‘n Kennisgewing om alle grond- en bouwerk onmiddellik te staak is deur Erfenis Wes-Kaap uitgereik om werk op die perseel van die Swartland NG Moederkerk op Malmesbury eers tot stilstand te bring.
Dié tydelike stakingsopdrag het gekom nadat die oorblyfsels van minstens 12 grafte – menslike oorskot en kiste – onlangs tydens die konstruksie vir ‘n nuwe saal gevind is.
Die gemeente het vroeër erfenistoestemming gekry om ‘n nuwe saal- en kantoorkompleks van ongeveer R2,8m langs Rainierstraat op die kerkperseel op te rig.
Die Swartland Munisipaliteit het ook in Oktober toestemming gegee vir die verslapping van die boulyn om die saal nader aan die grensmuur op te rig as aanvanklik beplan.
Denzil Holloway van die kerkraad sê die kerkraad het op die bou van die nuwe saal besluit omdat die ou saal aan ‘n kleuterskool uitverhuur word en daar ‘n groot behoefte is vir ‘n saal vir byeenkomste ná afloop van kerkdienste en begrafnisse.
Hy sê die kleuterskool het aangedui dat hulle ook die bestaande kerkkantoor in die CJZ-gebou aan Voortrekkerweg sal wil huur.
Vroeër vanjaar het dié courant berig oor die verskuiwing van ‘n dubbele graf van ‘n pa en dogter -J.P. Coetzer (oorlede 10 Januarie 1892 in die ouderdom an 63 jaar) en sy dogter Anna M.J.E. van Dyk (gebore Coetzer) oorlede 3 November 1897 in die ouderdom an 24 jaar) – waarvoor daar aanvanklik toestemming gegee is. Daar was ‘n grafsteen en dit was van die begin deel van die projek se beplanning.
Holloway vertel hulle was verbaas dat daar nou nog grafte gevind is, omdat hulle die perseel laat vee het met spesiale grondradartoetse wat geen aanduiding van grafte getoon het nie. Dit blyk nou dat dit wat met die toetse vermoed was boomwortels was, beendere en oorblyfsels van doodskiste kon insluit.
Die ontdekking van soveel grafte is ‘n groot raaisel vir erfeniskenners omdat daar tot dusver met navorsing geen rekord van dié grafte gevind is nie.
Baron Van Imhoff het in 1743 op besoek opdrag gegee dat ‘n gemeente (die vyfde gemeente van die NG Kerk ) gestig word omdat hy geskok was met stand van godsdiens gemeenskap. Hy het gekla dat die inwoners van “Zwartland sig aan den godsdiens weynig of niet bekreunende”.
Die grond waar die kerk vandag staan, is met die kerkstigting rondom 1745 van ‘n weduwee Van der Westhu(i)(y)(s)(z)en bekom. Sy was vermoedelik Beatrix, die weduwee en tweede vrou van Pieter van der Westhu(i)(y)(s)(z)en. Dit was deel van die plaas Welvergenoegd wat glo van die voet van die Paardeberg oor die Dieprivier gestrek het.
Die gemeente is op 27 Junie 1745 met 55 lidmate afgestig van Kaapstad. Die aanvanklike kerkgrond het ‘n baie groter gedeelte van die huidige dorp beslaan.
Talle vrae ontstaan nou oor die grafte.
Die eerste plase (veeposte) in die Swartland is in die vroeë 1700’s (Tweekuil, 1705) uitgegee en dit is nou onseker wanneer hierdie mense hier begrawe is.
Vroeë aanduidings is dat van dié mense welaf kon wees omdat die vonds onder andere oorblyfsels van ‘n kunsgebit met ‘n goue insetsel asook oorblyfsels van kiste met pragtige versiering insluit.
Dit blyk nou ook dat van die grafte tot onder die teeroppervlak van die bestaande voetpaadjie om die kerkgebou lê.
Holloway sê daar is belangstelling van navorsers wat dalk DNA-toetse kan doen om meer inligting in te win, maar dit sal waarskynlik net gebeur as die navorsers fondse daarvoor kan bekom.
Die eerste kerkgebou en pastorie is volgens rekords in die tyd van die tweede predikant, ds. C.B. Voltelen (1750-1755) voltooi nadat sy voorganger, ds. R.A. Weerman, met die projek begin het.
Die gebou het later te klein geword waarna ‘n nuwe kerkgebou op 30 September 1860 in gebruik geneem is.
Maar ‘n gedeelte van die nuwe kerk het twee jaar later ineengestort.
Die gemeente het die skade herstel en in 1864 vir die kerk ‘n torinig opgerig.
Dié het toe in 1877 ook ineengestort waarna dit saam met die kerkgebou behoorlik herstel is.
Twee vleuels is later in die tyd van ds. C. Rabie aangebou en in 1899 in gebruik geneem. In sy tyd is daar ook ‘n nuwe pastorie gebou.
Die 12 grafte is nou ontdek aan die Kerkstraat-kant van die uitgrawings waar daar dieper uitgegrawe is om die kerk se nuwe kantore as kelder onder die saalkompleks te bou.
Holloway sê daar moet nog sowat 30cm gesak word.
Dit is ook onbekend of daar nog grafte lê op die gedeelte wat nie uitgegrawe word nie en dan uiteindelik onder die saal sal wees.
Daar is reeds van die fondasies gegooi en die plan was om op 6 Januarie te begin bou, maar dit sal nou noodgedwonge uitgestel moet word.
Die kerkraad moet ná dié vonds nou weens regulasies vir ‘n ander permit aansoek doen om met die projek voort te gaan.
“Ons hoop dit sal spoedig kan gebeur.”
Daar is aanduidings dat daar meer as een keer in die verlede erge vloedskade op die kerkterrein was weens swaar reëns/wolkbreuke.
Dit is onduidelik of die grafstene só in die slag kon bly.
Erfeniskenner Chris Murphy wys op ‘n ou foto wat moontlik uit die vroeë 1900’s dateer waar ‘n groot aantal mense op die kerkterrein is en dit lyk of hulle ook die gedeelte waar die grafte nou gevind is, volstaan. Hieruit kan moontlik afgelei word dat die grafstene toe reeds nie meer daar was nie.