Agri/BusinessFEATURED

Swartland Toerisme spog met nuwe identiteit

Die amptelike toerismestruktuur in die Swartland is verlede jaar ná ‘n lang proses verander met die stigting van die Swartland Toerisme MSW en dié maatskappy spog nou met ‘n splinternuwe embleem.

Die maatskappy sonder winsbejag is in Julie 2022 gestig en verenig toerisme in die dorpe Yzerfontein, Darling, Malmesbury, Moorreesberg, Koringberg en die Riebeekvallei onder een handelsmerk.

Lizelle Carstens

“Ons is verheug om die nuwe handelsmerkidentiteit en -veldtog te onthul.

Dit is daarop gemik om die streek as ‘n voorkeurbestemming te bemark en bewustheid van die Swartland se kulturele, geografiese, landbou en kulinêre diversiteit te verhoog,” sê toerismebestuurder Lizelle Carstens.

“Kenmerkend van die streek en sy mense, omvat die nuwe embleem bekende landmerke en is dit speels, inklusief en modern,” verduidelik sy.

“Die menige vars kleure spreek tot die ryk diversiteit van die Swartland. Die embleem sal in die komende weke op ons bemarkingsmateriaal, Swartland Toerisme se amptelike webwerf en ander platforms verskyn.”

Carstens sê: “Die Swartlandspan het groot planne om handelsmerkbewustheid te skep in sosiale-mediaveldtogte en spesiale geleenthede verteenwoordigend van die uniekheid van elkeen van sy dorpe.
“Kortom, die klem sal val op Swartland as die nuwe aan-die-brand-bestemming vir plaaslike en buitelandse besoekers.” – Persverklaring

Leave a Reply

error: Content is protected !!