Waterbeperkings weens druk op beskikbaarheid
Die Swartland Munisipaliteit het inwoners reeds ‘n paar keer versoek om water spaarsamig te gebruik. Die rede is dat beurtkrag die owerheid se vermoë om die watervlak van tydelike wateropgaarplekke hoog genoeg te hou om in die vraag te voorsien, onder erge druk plaas.
Intussen het die Bergrivier Munisipaliteit vir dieselfde rede gister met onmiddellike werking waterbeperkings vir Piketberg ingestel.
Die munisipaliteit sê: “Volgehoue Eskom-beurtkrag maak watervoorsiening amper onmoontlik.”
Onder die beperkingsmaatreëls mag inwoners van Piketberg volgens hul straatnommers hul tuine slegs elke tweede dag met munisipale drinkwater vir ‘n uur met die hand natlei – tussen 18:00 en 09:00.
Voorts mag geen munisipale drinkwater vir waterversierings gebruik word nie en mag swembadwater ook nie met munisipale drinkwater aangevul word nie. Die gebruik van draagbare kinderswembaddens is verbode. Inwoners mag ook nie hul voertuie met munisipale drinkwater was nie.
Die owerheid het ‘n beroep op inwoners gedoen om daaglikse waterverbruik tot 100 liter per persoon te beperk. Die munisipaliteit het ook reëlings getref vir waterpunte met tenkwaens en waterhouers.
Vroeër het die munisipaliteit ook daarop gewys dat hy van die Weskus Distriksmunisipaliteit kennis gekry het dat die Withoogte Watersuiweringskema slegs op 40% van sy kapasiteit kan funksioneer onder fase 6 beurtkrag. Bergrivier het ‘n beroep gedoen op al sy inwoner maar veral die gemeenskappe van Velddrif en Dwarskersbos wat direk water vanaf Withoogte kry, om water so spaarsamig as moontlik te gebruik.
Watervlakke van opgaardamme
Naas die groot uitdaging en druk wat beurtkrag op watervoorsiening plaas, is die watervlakke van die vernaamse damme in die Wes-Kaap ook tans aansienlik laer as ‘n jaar gelede.
Daar was Maandag 227 miljoen kiloliter minder water opgegaar in die vyf grootste damme as op die ooreenstemmende datum verlede jaar. Om dié syfer in perspektief te plaas, kan na die totale stoorkapasiteit van elk van die provinsie se twee grootste damme gekyk word. Dié van die Theewaterskloofdam is 479,3 miljoen kiloliter en die Voëlvleidam se kapasiteit is 158,6 miljoen kiloliter.
Dié twee damme se onderskeie vlakke was Maandag op 61,5% en 51,6%.