FEATUREDSchools

Sekondêre skoolonderrig: só lyk 2023 se fooie

Verlede week was dit terug hok toe vir die provinsie se skoolkinders en ook in die Swartland-streek raak die getalledruk op skole al groter.

Al gaan verreweg die meeste skoliere na die skole die naaste aan hul huise, is daar ook etlikes wat elders gestuur word vir hul onderrig.
Skoolfooie raak elke ouer en dié courant het weer ‘n bietjie gaan kyk na skoolfooie vir sekondêre onderrig.
Ook die tariewe van die mees gewilde skole waarheen kinders uit die Swartland gestuur word se skoolfonds en losiesgelde is relevant wanneer die opsies opgeweeg word.

Skole in die Swartland- en Bergrivier-streek se skoolfooie is oor die algemeen laag vergeleke met dié in ander streke.
Die skoolfooie van plaaslike skole het grotendeels met minder as 10% gestyg vanaf 2014.
Op Malmesbury is die volle jaarlikse skoolfonds van Wesbank R1400 en Schoonspruit R1300 (koshuis R13 200).
Om jou kind in Hoërskool Swartland te laat onderrig, kos nou jaarliks R21 300 (koshuis R35 000), terwyl dié van Dirkie Uys op Moorreesburg R14 400 (koshuis R21 300), Piketberg R15 330 (koshuis R23 624) en Porterville R15 300 (koshuis R24 000) beloop.

Heelparty kinders uit die Riebeekvallei gaan na Hugenote op Wellington vir hul onderrig. Hier beloop die jaarlikse skoolfooie nou R25 000 (koshuis R37 400). Van die skole waarheen kinders uit die streek weggestuur word, is Hoër Landbouskool Boland (R36 500 vir skoolfonds en R42 000 vir koshuis), Hoërskool Gimnasium in die Paarl (R42 100 vir skoolfonds en R56 000 vir koshuis), Hoër Jongenskool Paarl (R40 840 vir skoolfonds en R56 560 vir koshuis) en Hoër Meisieskool Paarl (R39 410 vir skoolfonds en R45 370 vir koshuis).

Van die koshuisskole op Stellenbosch waar kinders uit dié courant se lesersgebied verlede week hul skooljaar begin het, is die Hoër Meisieskool Bloemhof (R41 220 vir skoolfonds en R39 000 vir koshuis) en Paul Roos (R52 650 vir skoolfonds en R59 650 vir koshuis).
Die skoolfonds van Hoërskool Hopefield beloop R20 402 (R26 519 vir koshuislosies).
Dié courant het navraag gedoen by die nuwe Moorreesburg Hoërskool wat verlede week vir die eerste keer sy deure geopen het, maar hul moet nog hul skoolfonds vasstel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!