LatestSchools

H Swartland XI sit segetog voort; klop Paarl Gim

Die eerste krieketspan van die Hoërskool Swartland op Malmesbury het die jaar behoorlik op ‘n hoë noot afgeskop met goeie seges en dit vandag opgevolg toe hul Paarl Gimnasium getroef het.

Die Swartlanders het die loot in vanmiddag se T20-wedstryd gewen en besluit om eerste te kolf.
Hulle het 131 lopies in die toegelate boulbeurte aangeteken met Carlo van der Merwe (48), Juriaan Schreuder (32) en Josh Müller (25 nie uit nie) die voorste lopiemakers.

Hierna het Swartland se boulers die Paarliete behoorlik vasgepen en tot 126/3 beperk om die wedstryd met 6 lopies te wen.
Vir die wenspan het Carlo van der Merwe (1/16 ná 4 beurte), Juriaan Schreuder (1/21 ná 4 beurte) en Juan Meyer (1/24 ná 4 beurte) die beste gevaar met die bal.
Bouler Sagren Papier moes in die laaste boulbeurt koelkop bly om 11 lopies te verdedig en het hom uitstekend van sy taak gekwyt om die oorwinning te verseker.

  • In hul kragmeting (50 boulbeurte) die afgelope Saterdag teen Porterville het Swartland se eerste XI ook die loot gewen en eerste gekolf.
    Hulle het 276 lopies opgestapel vir die verlies van 8 paaltjies met Carlo van der Merwe (89),
    Josh Müller (57 nie uit nie) en Matthew Ferreira (55 lopies) wat die lang steel behoorlik ingelê het.
    Die boularsenaal het hul opponente daarna baie min beweegruimte gegee en Porterville se 10de paaltjie het in die 40ste boulbeurt gekantel met hul telling op 96. Die voorste boulers in Swartland se sege met 180 lopies was Jan-Paul Bester (2/13 ná 8 beurte), Juan Meyer (2/19 ná 9 beurte) en Sagren Papier (2/9 ná 4 beurte).
  • ‘n Week vroeër het Swartland hul wedstryd (50 boulbeurte) teen Parel Vallei in Somerset-Wes met 4 paaltjies gewen.
    In dié wedstryd het Parel Vallei eerste gekolf en 147 lopies aangeteken.
    Stefan von Wielligh, Juan Meyer en Carlo van der Merwe het elk twee paaltjies geneem.
    Swartland het die teiken bereik ná 33 boulbeurte met ses paaltjies plat.
    Matthew Ferreira (48 lopies) en Cobus Steyn (31) was die Rockies se beste kolwers.
Agter staan Jan-Paul Bester, Juriaan Schreuder, Juan Meyer, Stefan Von Wielligh, Carlo van der Merwe (kaptein), Yeoman Van Zyl, Cobus Steyn en Niel Albertyn.
Voor is Sagren Papier, Josh Müller, Stephan Malherbe en Matthew Ferreira.

Leave a Reply

error: Content is protected !!