CommunityLatest

Erfenis moet sê oor kerk se beendere

Die pad vorentoe van die projek van die NG Gemeente Swartland om ‘n nuwe saal op die erfenisperseel van die Moederkerk op Malmesbury te bou, kan Maandag meer duidelik word wanneer hul noodaansoek deur Erfenis Wes-Kaap oorweeg word.

Nadat daar aanvanklik toestemming verkry is om een dubbelgraf (Pa en dogter Coetzer) te skuif om die saalkompleks te bou, is bouwerk verlede maand gestop toe die oorblyfsels en oorskotte van ten minste nog 12 mense oopgegrawe is.
Dit het talle vrae laat ontstaan oor die identiteite van die afgestorwenes en hoe oud die grafte is.
Van die grafte, so blyk dit nou, is selfs gedeeltelik onder die teerpaadjie om die kerk.

Die eiendom met die kerk daarop (insluitende die ringmuur) is volgens rekords in 1979 onder die wet op nasionale monumente (wet 28 van 1969) deur die destydse minister Willem Cruywagen tot nasionale monument verklaar.

Die verklaring lui dat die huidige kerk in die neo-Gotiese styl op 30 September 1860 geopen is. Die toring wat in 1864 bygevoeg is, het in 1877 ingetuimel en is in 1880 herbou. Die kerk word ook nou verbind met die stigting van die Swartland-gemeente en die totstandkoming van Malmesbury as dorp, aldus die verklaring.
Die hoeksteen van die kerk is op 5 Februarie 1859 gelê. ‘n Gedeelte van die kerkgebou self het ook in 1862 ingeval en is toe van 1863 tot 1864 herstel. Twee vleuels is ook van 1897 tot 1899 aangebou.

Erfenis Wes-Kaap moet nou besluit of daar met bouwerk voortgegaan kan word en wat met die beendere gedoen moet word.
Omdat daar tot dusver nie rekord van die grafte gevind kon word nie, is dit moeilik om die ouderdom daarvan te bepaal. Daar was naas die grafsteen van pa en dogter Coetzer (J.P. Coetzer oorlede 10 Januarie 1892 in die ouderdom an 63 jaar en Anna M.J.E. van Dyk (gebore Coetzer) oorlede 3 November 1897 in die ouderdom an 24 jaar) wat reeds met toestemming verskuif is, reeds vir baie jare nie ander grafstene op die betrokke stuk grond nie.

‘n Historiese foto waarop ‘n groot skare mense (onder meer op perde) by die kerk byeen is, werp ook nie duidelikheid nie, omdat dit onmoontlik is om te sien of daar mense staan onder die bome aan die Rainierstraatkant van die kerk op die stuk grond nou ter sprake.
Een van die moontlikhede om antwoorde te kry is wel om met paleontiese toetse vas te stel hoe oud die grafte en beendere is. Dit kan egter ‘n lang en duur proses wees.

Die voorsitter van die kerkraad, Denzil Holloway, sê pogings om rekords van die grafte te bekom, was tot dusver onsuksesvol.
Die kerkraad wil die saal en nuwe kerkkantoor bou omdat hulle met die uitverhuur van hul bestaande saalgeriewe nie meer ‘n lokaal vir byeenkomste het nie. Die kerkkantoor, wat tans nog in die historiese CJZ-gebou gehuisves word, sal volgens plan dan ook na die nuwe kompleks skuif.

Die grond waar die kerk vandag staan, is met die kerkstigting rondom 1745 van ‘n weduwee Van der Westhu(i)(y)(s)(z)en bekom. Sy was vermoedelik Beatrix, die weduwee en tweede vrou van Pieter van der Westhu(i)(y)(s)(z)en. Dit was deel van die plaas Welvergenoegd wat glo van die voet van die Paardeberg oor die Dieprivier gestrek het.
Die eerste kerkgebou en pastorie is volgens rekords in die tyd van die tweede predikant, ds. C.B. Voltelen (1750-1755), voltooi nadat sy voorganger, ds. R.A. Weerman, met die projek begin het.
Die gebou het later te klein geword waarna die nuwe kerkgebou op 30 September 1860 deur ds. Johannes Carolus Le Febre Moorrees in gebruik geneem is.

ds. Johannes Carolus Le Febre Moorrees

Omdat Erfenis Wes-Kaap se aanvanklike toestemming vir die saalkompleks en die skuif van die Coetzer-graf uitdruklik voorgeskryf het dat daar met werk gestaak moet word die oomblik as nuwe argeologiese materiaal gevind word, het die owerheid die konstruksieproses summier gestaak toe daar nog etlike grafte oopgegrawe is.
Die bouers het toe reeds fondasies vir ‘n gedeelte van die nuwe gebou gegooi.
Intussen is dit onduidelik of daar nog grafte kan wees op die grond onder die voorgenome saal waar uitgrawings nie vir bouwerk nodig is nie en of Erfenis Wes-Kaap daaroor ook voorskriftelik sal wees.
Die moontlikheid van ‘n verpligte verdere openbare deelnameproses vir die pad vorentoe word ook nie uitgesluit nie.
Wetgewing vereis dat kulturele erfenis beskerm moet word.

Die wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) sluit onder meer die volgende in:

  • Argeologiese artefakte, strukture en terreine ouer as 100 jaar
  • Etnografiese kunsvoorwerpe (bv. prehistoriese rotskuns) en etnografie
  • Voorwerpe van dekoratiewe en visuele kuns
  • Militêre voorwerpe, strukture en terreine ouer as 75 jaar
  • Historiese voorwerpe, strukture en terreine ouer as 60 jaar
  • Geproklameerde erfenisterreine
  • Begraafplase en grafte ouer as 60 jaar.

Wetgewing bepaal dat geen persoon sonder ‘n permit uitgereik deur die verantwoordelike owerheid

  • enige argeologiese of paleontologiese terrein of enige meteoriet mag vernietig, beskadig, uitgrawe, verander, skend of andersins versteur nie;
  • enige argeologiese of paleontologiese materiaal of voorwerp of enige meteoriet mag
    vernietig, beskadig, uitgrawe, uit sy oorspronklike posisie verwyder, versamel of besit nie;
  • in enige kategorie argeologiese of paleontologiese materiaal of voorwerp, of enige
    meteoriet handel dryf, dit verkoop vir private gewin, uitvoer of probeer om uit Suid-Afrika uit te voer nie;
  • enige uitgrawingtoerusting op ‘n argeologiese of paleontologiese terrein mag bring of gebruik
    of enige toerusting wat help met die opsporing of herwinning van metale
    of argeologiese en paleontologiese materiaal of voorwerpe of enige toerusting gebruik vir die herwinning van meteoriete nie
  • enige struktuur of deel van ‘n struktuur ouer as 60 jaar (en outomaties beskerm), mag verander of sloop nie.
    In terme van menslik oorskot word grafte in verskillende kategorieë geplaas en ook op soortgelyke wyse streng beheer.
    Met menslike oorskot moet daar ook toestemming verkry word van die afstammelinge waar bekend of opspoorbaar.
  • Ongeïdentifiseerde/onbekende grafte word outomaties as ouer as 60 jaar hanteer totdat anders bewys word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!