Bouwerk begin vir ‘nuwe ou’ Loedolffhuis
Die Weskus Kollege het begin met die restourasie van die beskadigde Loedolffhuis op Malmesbury nadat dele van die gebou in onderskeidelik September 2020 en Julie 2021 ingetuimel het.
Volgens woordvoerder Ivan Swart behels die restourasie dat die gebou teruggeneem sal word na sy oorspronklike styl en dak soos op vroeëre rekords.
“Al die nodige toestemmings is reeds verkry en daar is nou reeds steierwerk opgerig vir die herstelwerk en restourasie.”
“Dit beteken dat die mure herstel sal word en die nodige dakwerk gedoen sal word om die dakstruktuur en bedekking terug te neem na die oorspronklik staalbedekking,” het hy bygevoeg.
“Die kollege is inderdaad bly dat die groenlig gegee is om voort te gaan met die volgende fases van hierdie proses, aangesien ons voortbou op die geskiedenis van die dorp terwyl ons aanhou bou aan die toekoms van ons jeug,” sê Lungisa Mbulawa, hoof van Weskus Kollege.
Die kollege beplan om die gebou as deel van hul gasvryheid- en spysenieringsdienste en gasvryheidsprogramme te gebruik en die teorie wat die studente in die klas leer, hier prakties te implementeer.
“Die gebou sal ‘n paar gastekamers huisves asook ‘n restaurantruimte wat die studente in die opleiding sal gebruik.
“Ons vra dat Malmesbury en die groter Swartland se gemeenskap saam in ons opgewondenheid deel terwyl ons die nodige tyd benut om hierdie gebou in volle glorie te herstel,” het Mbulawa gesê.
Loedolffhuis dateer uit ongeveer 1830 en is as ‘n Graad 3A-erfenisperseel geklassifiseer met, volgens die Swartland Erfenisopname, buitengewone waarde op die gebied van die estetiese, argitektoniese en historiese.
Dit was die woning van Hugo Hendrik Loedolff, ‘n plaaslike LP wat ‘n groot rol in kerklike kringe gespeel het. Hy het destyds die hooggeregshof genader omdat die Kaapse NG Kerk hom nie wou gelyk gee oor die uitsluiting van gemeentes buite Kaapland nie. Die hof het op 26 November 1862 in sy guns beslis en die gemeentes in die res van land moes toe nuwe sinodes skep.
Volgens aanduidings is die gebou op die hoek van Loedolff- en Kerkstraat se gewels die eerste keer laat in die 19de eeu verwyder. Van die oorspronklike elemente het tot vandag behoue gebly.
Dit het in een stadium ook ‘n veranda aan die Loedolffstraatkant gehad.
Die gebou is in die 1990’s beskadig toe ‘n vragmotor dit getref het.
In 2005 is dit gerestoureer – dié keer met die gewels en rietdak.