LatestNews

WvW-projek beskerm waterbronne

Persverklaring – Die Weskus Distriksmunisipaliteit (WD) koördineer en bestuur jaarliks die Werk-vir-Waterprojek in die Weskusstreek. Die program is daarop gemik om indringerlante wat baie meer water as inheemse plantegroei gebruik, te verwyder. Hierdie uitheemse indringerplante verdring en vernietig dikwels die inheemse plantegroei.

‘n Woordvoerder van die WD, Heinrich Robertson, sê in ‘n persverklaring met die toelae wat deur die Departement van Omgewingsake aan die munisipaliteit toegeken is, het die WD in die 2022/2023 finansiële jaar 18 voltydse werksgeleenthede vir Weskusinwoners geskep.

“Die program sluit ook bykomende opleiding in waterveiligheid, gesondheid, noodhulp en doeltreffende omgewingsvriendelike onkruidbeheer in. ‘n Vennootskapsooreenkoms tussen die WD en die Departement Bosbou Visserye en Omgewingsake is die basis vir die Werk-vir-Waterprogram wat deur die munisipaliteit administreer en bestuur word.

Die Werk-vir-Water-werkers wat tans op die Bergrivier werksaam is.

“Waterhiasinte is die grootste enkele spesie wat in die projek verwyder word.Dit ding nie net mee en verdring inheemse spesies nie, maar skep hindernisse vir ontspanning en gebruik baie meer water as die inheemse spesies.

“Die indringerplante hou só nie net ‘n direkte bedreiging in vir Suid-Afrika se biologiese diversiteit nie, maar ook vir watersekerheid, die ekologiese funksionering van natuurlike stelsels en die produktiewe gebruik van grond. Hulle verhoog ook die impak van brande en vloede en verhoog ook gronderosie.

“Die Werk-vir-Waterspan is tans op die Bergrivier besig waar hul uitheemse plantegroei verwyder tussen Hermon en Velddrif. Die Bergrivier, ‘n groot waterbron in die streek, speel ook ‘n sleutelrol met betrekking tot toerisme in die Weskus. Die jaarlikse Bergrivier-kanomarathon op die rivier is een van die toerismegeleenthede wat op die rivier self plaasvind en die verwydering van hierdie uitheemse plantegroei verseker ook ‘n veiliger rivier vir dié geleentheid,” aldus Robertson.

Leave a Reply

error: Content is protected !!