Entertainment

Dis weer tyd vir Riebeek se Mardi Gras-jolyt

‘n Straatkarnaval met kleurvolle uitrusting, vlotte, vrolike maskers, krale en meer.
Dit is waarna inwoners en besoekers weer kan uitsien wanneer die derde jaarlikse Mardi Gras Parade op 3 Maart op Riebeek-Kasteel plaasvind.

Dit val saam met die ander aktiwiteite wat op die eerste naweek van elke maand in die vallei gehou word.
Die Mardi Gras word deur Riebeek Valley Events aangebied en mede-organiseerder Sean Cleary-le Grange het inwoners en besoekers genooi om in die viering van die lewe te deel.

“Enige besigheid, organisasie, skool, gesin of individu kan ‘n vlot inskryf. Dit kan enige versierde vervoermiddel wees: bakkies, motors, waens, minibusse, tuk-tuks, bromponies, motorfietse, fietse, driewiele, kruiwaens, rolstoele, go-karts en skaatsplanke. Maak net seker hulle is feestelik versier (ons moedig die gebruik van herwinde materiaal vir die versierings sterk aan).”

Diegene wat nie ‘n vlot wil bou nie, kan net in hul beste Mardi Gras-uitrustings (pers, goud en groen is die amptelike Mardi Gras-kleure), of iets soortgelyk deelneem, “maar hou dit gesinsvriendelik asseblief”.
Daar is kontantpryse op die spel vir Beste Vlot, Beste Uitrusting en Bes Geklede Troeteldier.

Talle restaurante sal ook tot die vieringe bydrae met spesiale Mardi Gras-aanbiedinge.
Vir meer inligting en om te registreer om deel te neem, kontak Helen Weber (072 073 3972 – slegs Whatsapp of h.m.weber@gmail.com) of Sean Cleary-le Grange (073 307 8289 – slegs Whatsapp of Sean@inthecity.coco.za)

Registrasie sluit Maandag 27 Februarie en ONTHOU jy moet geregistreer wees om in aanmerking te kom om ‘n prys te wen. Registrasie is gratis.
Die deelnemers begin vanaf 17:00 byeenkom vir die optog en pretstap deur die strate.
Die organiseerders sal die roete vir die parade en pretstap binnekort bekend maak.

Leave a Reply

error: Content is protected !!