CommunityNews

Voëlvlei ‘n miljoen swembaddens leër

Die gesamentlike watervoorraad in Kaapstad en omstreke se vernaamste damme het vandeesweek tot 525 549 megaliter gedaal.
Dit is ‘n gemiddelde vlak van 58,5% van die totale kapasiteit van net kort van 900 000 megaliter.

Die Voëlvleidam, die Swartland se primêre drinkwaterbron, se vlak was vandeesweek op 44,4% teenoor die 78,3% op die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Die damme saam se beskikbare voorraad is vandeesweek gelyk aan 1,35 vol Voëlvleidamme minder as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

In die Voëlvleidam was daar vandeesweek 55 628 megaliter minder water as dieselfde tyd verlede jaar. Dit is ongeveer gelyk aan die inhoud van 1 miljoen groterige swembaddens.
Die Swartland Munisipaliteit het vroeër ‘n beroep op inwoners gedoen om water te bespaar.

“Watergebruik in ons streek het vinnig tot voor-droogtevlakke toegeneem.
“Meteoroloë voorspel reeds dat die El Niño-weerstelsel waarskynlik hierdie winter sal terugkeer. “Dit kan lei tot ondergemiddelde reënval, wat veral problematies is in die Wes-Kaap wat die grootste deel van sy reënval in die winter ontvang.

“Dit is belangrik dat ons ‘n waterwyse leefstyl aanneem en altyd onthou dat ons in ‘n waterskaars land woon. Deur slim met water te wees, lekkasies vinnig by die munisipaliteit aan te meld en water versigtig te gebruik, kan ons water bespaar en waterverbruik verminder.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!