Ontwikkelingsplanne vir Mt Royal in ‘geslote fase’
Johan Viljoen
Die oorkoopplanne van ontwikkelaars om die onontwikkelde deel van die Mount Royal-landgoed op die noordwestelike grens van Malmesbury te bekom, is volgens Francois Smith van River Leaf Investments in ‘n geslote vensterperiode onder kontrak.
Smith het by navraag gereageer nadat hulle die naweek ‘n kennisgewing in dié verband aan belanghebbendes uitgereik het.
dié courant was vroeër ook in gesprek met Eben Kotzé, wat bevestig het dat hy nie gemagtig is om met die media te praat nie en dat Smith die ontwikkelaar is.
Smith het aan dié courant gesê hy het “rolspelers om te beskerm – van die munisipaliteit tot die verkoper. Ek sal die groot rolspelers se belange beskerm tot die dood toe.”
dié courant het deur die jare berig oor die vordering met die landgoed en die verskillende fases waarin dit opgedeel is. Ook die beplanning om die tweede nege putjies van die Malmesbury Gholfbaan te ontwikkel om dit met die landgoed te integreer.
As die nuwe transaksie(s) uitwerk en deurgevoer word, sal dit nuwe momentum bring en van hierdie planne bewaarheid word.
Hier is die inhoud van die skrywe (gedateer 13 Februarie 2023) van Francois Smith van River Leaf Investments wat aan belanghebbendes op die Mount Royal-landgoed en die Malmesbury Gholfklub uitgestuur is:
(stet)
“RIVER LEAF INVESTMENTS (PTY) LTD
“KENNISGEWING
“Malmesbury Gholfbaan
“River Leaf Investments het ‘n ooreenkoms met Proprop Trust en Gerry Rehrl die eienaar en ontwikkelaar van Mount Royal Golf & Country Estate aangegaan om die oorblywende onontwikkelde fases 2,3 en 4 in die landgoed te koop en te ontwikkel.
“Die wese van die ooreenkoms bepaal dat die projek soos oorspronklik deur die Swartland Munisipaliteit in 2005 goedgekeur is, sal voortgaan.
“In die verband neem River Leaf Investments Proprop Trust se rol as ontwikkelaar oor wat onder andere ook die ontwikkeling van die 18 putjie-gholfbaan en verbetering van die klubhuis insluit.
“River Leaf Investments is in die proses om die dienste van Suid Afrika se voorste gholfbaan ontwerpers en bouers, die Golf Data Groep te bekom en hulle is tans besig met ‘n voorgestelde ontwerp van die totale 18 putjies wat die gebruik van waterbesparings toerusting, toepaslike plantegroei en kompeterende speeltoestande inag sal neem.
“Die doelwit is om die gholfbaan en Malmesbury Gholfklub die middelpunt van die Swartland en omliggende omgewing te maak en in die verband het ons die bestuur en lede se samewerking en verdraagsaamheid tydens die projek nodig.
“Sodra die voorgestelde ontwerp gereed is sal River Leaf Investments dit aan die klub, munisipaliteit en huiseienaars in die landgoed voorlê.
Ons is baie omgewonde om die projek saam met die begin van die ontwikkeling van fase 2 vroeg in 2023 af te skop.”
Daar is tydens onderhandelinge spertye gestel vir belangrike komponente van die ooreenkoms. Smith het aan dié courant gesê: “Ek is ‘n sakeman wat goed reg doen en ek sal nie met derde partye praat behalwe wat ek gekommunikeer het nie.”
“As jy enigiets skrywe wat daar nie gesê is wat die waarheid is nie.
“Kry jy net een ding uit lyn uit. Net een ding, dan sien ons mekaar in die hof.”