Swartland gasheer vir meer as 1000 toutrekkers
Die Hoërskool Swartland het vanjaar gasheer gespeel vir die WP/Wynland Junior Toutrekkampioenskappe.
Die 169 spanne met ‘n geskatte meer as ‘n 1000 atlete het Saterdag op die krieketveld voor die skool se geskiedkundige gebou saamgetrek.

Die veld is in twee verdeel met ‘n kamp wat om die kolfblad gespan is om dit veilig teen enige aksie te bewaar.
Op die een deel van die veld het die kaalvoetaksie plaasgevind terwyl die swaarder gestewelde spanne op die ander gedeelte die tou opgeneem het.

Onder die deelnemende spanne was dié van die gasheerskool, Drostdy, Clanwilliam, Westcliff, Jan Kriel, Robertson, Strand, Jakes Gerwel Tegnies, Boishaai, Worcester Gimnasium, Montana, Melkbosstrand, Hooprivier, Laerskool Dagbreek, Helderberg, Malmesbury Toutrekklub, Bellville Leeus, Primêre Skool Worcester en Van Riebeeckstrand Primêr.

Drooggemaak
Die reën wat ‘n paar keer deur die dag uitgesak het, het die spanne nie afgesit nie en die toue is ‘n paar keer drooggemaak voor die toutrekspanne – 280kg tot 600kg – mekaar soms heen en weer getrek en laat les opsê het.

Al het ‘n paar spanne ook drooggemaak, was tegniek, konsentrasie en tydsberekening dikwels die deurslaggewende faktor.
Die Hoërskool Swartland (HSS) se 600kg-seunspan het ‘n welverdiende bronsmedalje verower.
HSS se gemengde 520kg-span het in die halfeindronde hard gespook vir die brons, maar moes uiteindelik die knie buig vir die 4de plek.
Die skool se 520kg-meisies het ‘n 5de plek behaal.

In die 560kg-seunsafdeling (gestewel) het Drostdy goud gebuit, terwyl Westcliff die goue medalje in die 480kg-afdeling vir meisies verower het.
Die skool het die borge van die dag, waaronder die hoofborg Standard Bank, bedank vir hul bydrae om die dag aan te bied.