EntertainmentNews

Unieke fotonaweek op Riebeek aangebied

Twee fotografiekunstenaars van die Riebeekvallei is die aanbieders op ‘n unieke fotografienaweek in die vallei op 1 en 2 April.
Emma Willemse is ‘n konseptuele kunstenaar en kunsopvoeder en William Walker is fotograaf en mede-eienaar van die Pictorex Fotogalery en kleurbestuurde drukateljee.

Die spesiale fotonaweek wat oor twee dae strek, skop Saterdag 1 April af met ‘n aanbieding deur Willemse oor die Konsepte in fotografie: “Hoe om te…” -‘n inleiding. Dit is ‘n verkorte en aangepaste weergawe van haar driedaagse werkswinkel getiteld: “Kuns en konsep: hoe om jou konsep in Visuele Kuns te definieer, ontwikkel en manifesteer”.
Die middag sal deelnemers kans kry om die omgewing van die Riebeekvallei te verken en hul eie foto’s te neem.
Sondagoggend kan deelnemers weer foto’s in die vallei neem en die oggendlig in die pragtige vallei benut.

Walker bied dan later ‘n sessie aan oor die oorwegings in die prosessering en afdruk van foto’s.
Hy sal aan die hand van voorbeelde die hoe en hoekom van redigering illustreer asook die breë oorwegings in die drukproses van hoë-kwaliteit foto’s.
Die sessies vind by Hoofstraat Conceptual op Riebeek-Kasteel plaas.
Die koste vir die naweek beloop R400 per persoon (koste sluit nie etes en verblyf in nie).
Daar is plek beskikbaar.
Om te bespreek, kontak Stephen Burgstahler: 060 739 8578 of Antenie Carstens: 073 303 7125.

Meer oor die aanbieders.

William Walker

William Walker en sy vrou Mary is die eienaars van Pictorex Photographic Gallery and Print Studio op Riebeek-Kasteel. Die volledig kleurbestuurde drukateljee word bestuur deur William, wat die Fine Art Digital Printing-werkwinkel by die Brooks-instituut in Santa Barbara onder leiding van meesterdrukkers Mac Holbert en John Paul Caponigro in 2010 bygewoon het.
Die hoofdoel van die Galery is om fotograwe te inspireer en aan te moedig om hul beste werk te druk, “want ons glo dat die afdruk steeds die uiteindelike uitdrukking van die fotografiese proses is”.
Behalwe om fotografiese beelde af te druk, digitaliseer en vervaardig Pictorex kwaliteitafdrukke van oorspronklike kunswerke.
Walker is ook ’n landskapfotograaf wat konsentreer op die veranderende seisoene en gepaargaande atmosfeer van die Swartland en sy pragtige berge.
https://wwalker9d54.myportfolio.com/https://wwalker9d54.myportfolio.com/

Emma Willemse

Emma Willemse is ‘n konseptuele kunstenaar en kunsopvoeder wat vanuit haar ateljee in Riebeek-Kasteel werk. Die ateljee is deel van Hoofstraat Conceptual, ‘n kompleks van kreatiewe ruimtes wat deur Emma en haar man Rudolph besit word.
Emma het ‘n breë ervaring van die onderrig van Visuele Kunste op tersiêre vlak en het ‘n Meestersgraad in Visuele Kuns van die Universiteit van Suid-Afrika (cum laude).
Sy het al baie in Suid-Afrika en oorsee uitgestal. Haar bekroonde kunstenaarsboeke-installasie is byvoordbeeld al in Johannesburg, Kaapstad, Stellenbosch, Florence, Parys, Londen en Dakar, Senegal, uitgestal.
In Emma se kuns is fotografie een van die toestelle en hulpmiddels wat sy gebruik om idees oor verlies, ontheemding, sin vir plek en plekskepping uit te druk.
www.emmawillemse.co.za

Leave a Reply

error: Content is protected !!