CommunityFEATUREDNeffens die Voorblad

Erfenis Wes-Kaap moet proses eers stop

Mening – Johan Viljoen

Die vyfde oudste NG-gemeente in die land en die oudste in die Swartland – die moeder van al die dogters wat uit haar afgestig het.
Die een enkele gebou wat onmiskenbaar minstens een van die belangrikste oorblywende, indien nie heel belangrikste, erfenisgebou in Malmesbury is – eintlik ‘n soort embleem wat Malmesbury verteenwoordig.
‘n Plek waar mense oor eeue heen letterlik en figuurlik rus gevind het en ook in hul spreekwoordelike laaste rusplek neergelê is… wel, só het hulle en familie waarskynlik geglo.
Veiliger as ‘n kerkhof vir ‘n laaste rusplek sou daar immers waarskynlik in baie mense se verstaan nie wees nie.
Ja, vooruitgang kan nie gestop word deur na gister en eergister terug te krabbel nie, maar wanneer wanneer is ‘n gebou, ‘n kerk, ‘n plek van aanbidding, daardie klein terrein, histories genoeg om werklik half ten alle koste bewaar te word.
Erfenis gaan nie oor die gebou nie, maar oor dit wat dit vir ons en ons kinders en hulle kinders beteken. Onder meer die estetiese …en die grafte.

Almal het die bewaring gefaal
Die Swartland Moederkerk in Kerkstraat is ons dorp, ons streek, ons provinsie, ons land se erfenis. Ek wil nie beweer dit is in alle opsigte mooi erfenis om op trots te wees nie, maar dit is ons gister. Ons dorp se gister. Daardie gebou verdien onteenseglik die provinsiale erfenisstatus en kom daar (ongelukkig, dalk) ‘n baie groot verpligting daarmee saam vir die eienaar (kerkraad/gemeente), die NG-sinode, die plaaslike owerheid asook Erfenis Wes-Kaap.
En almal van hulle het die bewaring van erfenis nou in ‘n mindere of meerdere mate gefaal.
Lyk dit nou soos ‘n kerk, owerheid of bewaringsliggaam wat werklik omgee?
Die gemeente het ‘n klompie jare gelede met die langtermynverhuring van hul kerksaal die eerste groot stap geneem. Só ‘n ooreenkoms is egter nie onomkeerbaar nie.

Red wat te redde is
Die besluit om in die alternatief ‘n saal amper teen die pragtige gebou op te rig en dié pragtige prentjie van voor vir altyd vir die toekoms en ons nasate te skend, is erfenisgesproke onverskoonbaar.
Dat die kerkraad daarvoor ingestem het, is ‘n klap in erfenisbewaring se gesig.
Met sovele geboue wat oor jare reeds in die dorp in die slag gebly of figuurlik geskend is met die toelaat van onooglikhede rondom hulle, sou mens hoop daar sou insig wees om te red wat te redde is. Of gee die betrokkenes en plaaslike owerheid eenvoudig nie om nie?
Dat die plaaslike owerheid goedkeuring verleen het dat ‘n provinsiale erfenisperseel met ‘n saal ontsier word, is net so onverskoonbaar. Of daar wetlike gereedskap vir hulle was om dit te keer of nie.

Wat is die nood?
Dat die kerk se sinode nie lankal aksies geloods het om die behoud van die eerste vyf of tien of twintig gemeentes se historiese kerk en kerkterreine te bewaar nie, is ook betreurenswaardig.
En Erfenis Wes-Kaap wat nie behoorlik optree en oortreders van permitte wat uitgevaardig is eenvoudig in die bek ruk en aandring op diepgaande en eerlike ondersoeke alvorens hul noodpermitte (wat die nood is, kan ek in elk geval nie verstaan nie) uitreik nie, is die vrot kersie op op koek.
Waarom het hulle hoegenaamd toestemming verleen terwyl enigiemand moes voorsien dat daar nog grafte is. Regtig. Dit is ‘n kerkhof. En dit moes seker naby vol wees voor daar aan die bokant van die nou Piet Retiefstraat ‘n verdere begraafplaas aangelê is.
Hoe kon ‘n grondstudie met radartoerusting (as dit behoorlik gedoen is deur ‘n ware kenner) nie beendere optel nie?
Hoekom is daar nie onmiddellik, soos per die eerste voorskrif, gestaak met enige verder opgrawings toe nog beendere opgegrawe is nie? Maar dit is aanvanklik bewustelik of onbewustelik sonder behoorlike toesig onwettig voortgesit.

‘n Deksel daarop te sit
Hoekom word daardie beendere nie ontleed vir ouderdom nie? Ja dit kos geld, maar dit is ongelukkig deel van die pakkie. Dis dalk mense onder ons se voorsate.
Hoekom is daar nie ‘n nuwe openbare deelnameproses om vas te stel of daar nog nasate is nie? Veral nadat soveel “nuwe” grafte oopgegrawe is.
Daar is ‘n doderegister in die NG Kerk-argief waarin bv. talle bekende Swartlandse vanne voorkom – mense in dieselfde tyd wat uitdruklik soos aangeteken in die Malmesbury Kerkhof begrawe is – in tye soortgelyk van dié met bestaande grafstene in daardie kerkhof.
So ja, is daar ‘n behoorlike poging aangewend/afgedwing om rekords op te spoor voor ‘n noodpermit uitgereik is om beendere in ‘n massagraf te gooi, ander grafte eenvoudig in te “boks” en verder ‘n saal oor (wat ek glo) nog ander se grafte te bou… ‘n Deksel daarop te sit.
Is hierdie nie ‘n belangriker erfenisterrein as wat ons tans besef nie? Is dit nie dalk grafte van voor die kerk gebou is nie?

Proses behoort onmiddellik eers gestop te word
Het jy voorsate? Is dit belangrik vir jou dat hul grafte bewaar word?
Nee, hierdie proses behoort onmiddelik gestop te word en behoorlike ondersoek eers gedoen te word. Studies kan gedoen word oor hoe oud die beendere bv. ook is.
*Oor die estetiese. Die vroeëre aanbouings/byvoegings aan die agterkant van die kerk ontsier nie die pragtige prentjie van voor soos enige ander gebou wat nou opgerig word, sal doen nie. En dit het niks met die argitek se ontwerp te make nie. Daarmee is daar nie fout nie. Al doen die argitek wat, dit sal die estetiese van die gebou skend.
*Laastens. Naas die feit dat daar nooit ‘n graaf in die grond toegelaat moes word nie en die saal esteties verbied moes word, is die saal hoegenaamd nodig?
Hoekom kan die gemeente dan, as hulle nie hul eie saal kan/wil terugneem nie, nie die Noord-gemeente se fasiliteite deel/gebruik nie? Sal die twee gemeentes nie tog maar met tyd weer saamsmelt nie?
(Hierdie meningstuk verteenwoordig nie die amptelike siening/mening van dié courant nie en is die persoonlike mening van die skrywer)

Leave a Reply

error: Content is protected !!