EntertainmentNews

Wiele vir Solo Studios ’23 aan die rol

Die jaarlikse Solo Studios-kunsnaweek in die Riebeekvallei het in 2016 sy beslag gekry en nou rol die wiele al weer volstoom vir vanjaar se naweek wat van 18 tot 20 Augustus plaasvind.

Om dié besondere kunservaring vir besoekers elke jaar anders en uniek te maak, poog die organiseerders deurlopend om nuwe komponente by te voeg.
Oor die naweek stel ‘n uitgesoekte groep Riebeekvallei-kunstenaars hul studios oop vir ‘n beperkte aantal besoekers.
Klaus Piprek, die vader van Solo Studios Intimate Art Encounters, het ‘n voorsmakie van vanjaar se naweek gegee toe hy die Voorskou-uitstalling by RK Contemporary in Hoofstraat, Riebeek-Kasteel geopen het.

Daar is vanjaar, saam met talle van die staatmakerkunstenaars, ook drie nuwe studio-kunstenaars uit die vallei. Ook sal die konsep om kunstenaars van buite te keur om saam met inwonende kunstenaars uit te stal weer deel van die aanbieding uitmaak.
Daar sal, soos gebruiklik, ook groepuitstallings wees in die permanente gallerye en gaste kan weer uitsien na spesiale aanbiedinge van Die kuns van Wyn en Koskuns met top-sjefs.

Klaus Piprek

Kunsliefhebbers kan die datum dus solank in hul dagboeke aanteken.
Piprek sê Solo Studios het die afgelope paar jaar reeds die behoefte aan ‘n hoofborg, maar was tot dusver nie suksesvol om ‘n geskikte een te kry nie.
Nadat hy verlede jaar aangekondig het dat hy wil afstaan en die projek aan nuwe organiseerders oorgee, was daar ‘n fase toe hy gedink het dit is vir eers die einde van Solo Studios.

“Kunstenaars het egter teëgeskop en daar is toe besluit om ‘n nuwe projekbestuurder aan te stel.”
Shaun Hewitt, ‘n jarelange inwoner van die vallei, sal vanjaar as projekleier optree en Solo Studios moontlik in die toekoms selfs oorneem.
Die Voorskou-uitstalling by RK Contemporary duur tot 26 Maart.

Leave a Reply

error: Content is protected !!