Goedgedacht wil omgewing nóg meer omarm
Johan Viljoen
Op die vooraand van hul 30ste bestaansjaarvieringe later vanjaar, het Goedgedacht in die Riebeeksrivier ‘n nuwe blaadjie omgeslaan.
Nie om van hul hoofroete en doel af te wyk nie, maar om aktief en effektief meer omgewingsvriendelik te boer, ‘n groter bydrae tot landbouontwikkeling te maak en ‘n splinternuwe ervaring vir gaste te skep – dit alles in die strewe na die opbou en ontwikkeling van die plattelandse kind.
Volhoubaarheid en herlewingsboerdery gaan voortaan ‘n groter integrale deel van Goedgedacht se praktyke uitmaak en gaste aan die plaas sal ook ‘n unieke nuwe ervaring kan beleef in die strewe na kraakvars kos van die tuin/plaas na hul tafel.
Só vertel Pieter Brand, landboubestuurder op die plaas.
dié courant was onlangs onder ‘n klein groepie gaste wat genooi is om ‘n voorsmakie van die nuwe ervaring en rigting te ervaar.
Goedgedacht is ‘n historiese plaas.
Twee maatskaplike werkers, Peter en Anne Templeton, het die plaas 30 jaar gelede gekoop en begin met ontwikkelingsprojekte onder die plaasgemeenskap.
Dit het oor jare ontwikkel tot ‘n baie groot rolspeler in die ontwikkeling van plaasmense in die hele streek.
Spesiale POP (Path onto Prosperity)-sentrums is geopen tot so ver as Prins Albert, om die gemeenskappe te ondersteun en te help met ontwikkeling.
Van die sentrums is intussen aan die gemeenskappe self oorgedra met vyf steeds onder Goedgedacht se bestuur – Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Chatsworth, Riverlands en Porterville.
Op die plaas is daar 35ha olyfbome waarvan die olywe verwerk en verkoop word om inkomste te genereer.
Goedgedacht het ook ander projekte soos die Help The Rural Child-liefdadigheidswinkels in onder meer Seepunt, Retreat, Mowbray, Kirstenhof en aanlyn, maar is ook van donasies – nasionaal sowel as internasionaal – afhanklik.
Daar is voorts reeds vir etlike jare ‘n projek waar donateurs ‘n olyfboom kan koop en “aanneem” ter viering van die lewe of ter herinnering aan ‘n geliefde.
Die konferensiefasiliteite en akkommodasie op die plaas vir 85 mense bied aan gaste ‘n rustige en pragtige plaasomgewing.
Goedgedacht is ook gewild vir troues met ‘n kapel wat dit die ideale plek maak om ‘n een stop-troue aan te bied.
Met die nuwe fokus op omgewingsvriendelike en volhoubare herlewingsboerdery, kan gaste voortaan uitsien na unieke spyskaartopsies met die klem op vars produkte.
Daar is ook ‘n unieke tee-huis in ‘n boom waar spesiale funksies aangebied kan word.
Brand sê hulle het grotendeels olieolywe en gaan die oorblywende tafelolywe uitfaseer om op olieolywe te fokus.
Die aanleg waar die olywe verwerk word, is op Goedgedacht se ander nabygeleë plaas, maar dié plaas kan moontlik in die nabye toekoms met ‘n spesiale ooreenkoms aan ‘n ander instansie verkoop word.
As deel van die klem op volhoubaarheid, is daar ‘n kwekery op die plaas waar ‘n verskeidenheid plante vir verskeie gebruike gekweek word.
Die plaas fokus ook op landbou-ontwikkeling en bied die geleentheid aan die landbou om werkers te stuur vir opleiding in onder meer die snoei van olyfbome.
Daar is ook ‘n kleuterskool met kinders van plase in die omgewing wat gebring en hier onderrig word. Die skool word bedryf midde etlike uitdagings omdat ouers nie altyd die kapasiteit het om na behore na hul kinders om te sien nie. Ook word die kinders nie elke dag gestuur om die nodige onderrig te ontvang nie. Die skool gaan tot Graad R.
Nog een van die ontwikkelingsprojekte is ‘n kortkursus om jongmense toe te rus vir die werkplek. Sophie Isaacs, ontwikkelingsbestuurder, verduidelik dat dié program ‘n besliste opvolg insluit om die geplaaste jong werkslui te ondersteun in die eerste fase van hul plasing by die nuwe werk om seker te maak hulle vestig suksesvol in hul onderskeie werke. Dit sluit ook noue samewerking met ondernemings in om die regte kandidate te identifiseer en te plaas.
As deel van hul ontwikkelingsprojekte en omgee vir die planeet, het Goedgedacht ook ‘n samewerkingsprogram om die gemeenskap te help en te skool om hul eie groentetuine – ook by die POP-sentrums – te boer.