AM skaapstudiegroep kuier by Deli-Co
Die skaapstudiegroep van Agri Malmesbury het die groot nuwe fasiliteite van die Deli-Co-vleisgroep buite Riebeek-Kasteel besoek en die indrukwekkende moderne aanleg eerstehands ervaar.
Die fasiliteite is onlangs in gebruik geneem.
Talle van die Malmesbury-boere se skape word by dié abattoir geslag en verwerk.
Deli-Co se uitbreidings is die jongste toevoeging tot die voorste abattoirs in die land en moontlik die grootste enkele abattoir en verwerkingsaanleg.
Daar is nog planne om dit oor die volgende vyf jaar in produksie uit te bou.
John Dürr, voorsitter van die studiegroep, het ‘n prentjie geskets van die beskikbare formele slagsyfers in die land en ‘n beroep op boere gedoen om nie hul skape minder te maak nie, maar eerder meer.
Hy het gesê volgens beskikbare syfers is daar tans sowat 20 miljoen skape in die land met die laaste formele slagsyfer vir ‘n jaar op ‘n lae 20% – 4 miljoen. Dié syfer behoort realisties meer as 12 miljoen te wees. “Waar is die res?”
Dürr, wat ook reeds vir jare nou betrokke is by die Rooivleis Produsente-organisie, het verder verduidelik dat tussen 28% en 30% van die formele skaapslagtings in die Wes-Kaap plaasvind en dat Deli-Co in die laaste aangetekende jaar reeds ongeveer 25% van die Wes-Kaap se slagtings gedoen het.
Die skaapstudiegroep se gasheer vir die dag was Frederik Truter, een van Deli-Co se direkteure.
Hy het klem gelê op die vennootskap tussen die abattoir en die produsent (boer) en Deli-Co se rol uitgespel as die komponent in die waardeketting wat die produk vir die verbruiker “sexy” moet maak om verkope en verbruik optimaal te bevorder vir groter opbrengs.
Truter het gesê hulle het planne om oor die volgende vyf jaar ‘n verdere ongeveer 450 mense by die aanleg in diens te neem grotendeel in die verwerking en verpakking van die produk om juis hul rol in dié verband uit te bou.
Die besoek is moontlik gemaak deur borge – Afrivet en ABE Biotech.
Veearts dr. Johan van Rensburg van ABE Biotech het die kardinale belang van die gesondheid van die rumen in beide beeste en skape se metabolisme en optimale produksie toegelig.
Hy het gesê alles in die dier draai eintlik om die rumen en sou jy die rumen verwyder (soos hulle ook inderdaad in navorsing gedoen het), dan gaan die dier ná enkele maande dood.
Die optimale verwerking en omskakeling van koolhidrate en proteiene en gepaardgaande teenwoordigheid van o.a. melksuur en vlugtige vetsure speel ‘n deurslaggewende rol.
Hy het verduidelik dat die pH (suurheidsgraad) in die rumen erg kan wissel sodra daar oorgang/aanpassings in die rantsoen van die dier kom. Dit kan ‘n groot impak op voeromset en energieverbruik veroorsaak omdat dit ‘n direkte invloed op die dier se inname het. Die ideaal is om die pH so konstant moontlik rondom 6 te hou (fluktuasies te beperk).
Omgewingsfaktore en voedingsmetodes speel ‘n groot rol.
Een van die metodes om die pH op ‘n natuurlike manier te bestuur is die toediening van natuurlike buffers. Dit kan reeds op ‘n lam/kalf van 3 weke gedoen word om die rumen se ontwikkeling aan te help en ook speekselvorming te bevorder om juis as ‘n buffer te dien.
‘n Skaap kan op weiding ongeveer 17 liter speeksel per dag produseer. Dit bikarbonaat in die speeksel dien as buffer vir die pH in die ruben. As die rantsoen skielik aangepas word, val die speekselvorming maklik na 4 liter, verduidelik Van Rensburg, en dit het ‘n direkte gevolg op die suurheidsgraad in die rumen.
Die toedien van natuurlike buffers (natuurlike mikro-organismes) in die rantsoeneword gebruik om die pH te beheer.
In voerkrale het dit onder meer die voordeel dat die tyd wat ‘n dier in ‘n voerkrale deurbring, met tot 12 dae verkort word met gepaardgaande finansiële implikasies.