FEATUREDNews

Alternatiewe vir water bekyk

Nadat die Wes-Kaap ‘n klompie jare gelede die realiteit van ‘n Dag Zero vir waterbeskikbaarheid in die gesig gestaar het, is die kwessie van water nou weer onder die loep met lae damvlakke, hoë vraag en reënvoorspellings wat ook nie baie help nie.
Voorts is daar ‘n wesenlike toename van mense wat hul in die provinsie kom vestig met gepaardgaande hoër vraag na water. Ook die bevolking van die Swartland neem toe.

Volgens die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas, het plaaslike owerhede in die Wes-Kaap pas ‘n tipe waterberaad gehou waar die kwessie en oplossings bespreek is.
Die Swartland Munisipaliteit het reeds ‘n klokmpie jare gelede in diepte gaan kyk na elke dorp onder sy/haar jurisdiksie se watersituasie.
Om ‘n waterstrategie saam te stel, is daar in diepte gekyk na elke Swartlandse dorp se bronne en behoeftes.
Deurlopende waterbesparing deur al die inwoners is een van die belangrikste aspek.
Yzerfontein is die naaste aan die see, maar ook tans die verste (80km) van die Voëlvleidam af.

Die Grootwater-akwafir en moontlike ontsouting by Saldanha as waterbronne kan hier as opsies oorweeg word.
Die aanvulling van ander dorpe se waterbronne met bestaande en nuwe boorgate (met wisselende watergehalte en kapasiteite) is deel van die ondersoek om water in die toekoms aan te vul.

Kanale
Intussen bevestig Cleophas dat die munisipaliteit weer die nasionale departement van Waterwese moes versoek om die oorgroeide toevoerkanale van die Voëlvleidam skoon te maak. Hul het volgens aanduidings nou daarmee begin. ‘n Paar jaar gelede moes die plaaslike en provinsiale owerhede ook druk op Waterwese plaas om die kanale te herstel en skoon te maak.

Raadsheer Harold Cleophas

Die Voëlvleidam, volgens Stad Kaapstad se jongste syfers, was Maandag 40% vol teenoor 65,8% dieselfde tyd verlede jaar.

*Onlangs toe die watermassas in die riviere in die binneland oorstromings veroorsaak het en weggevloei het see toe, het dié courant ook na ‘n paar interessante statistieke gaan kyk.
Só byvoorbeeld het daar toe tot 4000 kumeks (kubieke meter of kiloliter per sekonde) by die Augrabies-watervalle (ongeveer 540km van die Swartland) afgestort om seewaarts te vloei.

Om die hoeveelheid water wat daar wegvloei in perspektief te sien, kan ‘n mens kyk na die Swartland se groot waterbron, die Voëlvleidam, en die Wes-Kaap se grootste dam, die Theewaterskloofdam.
Hulle kapasiteit is sowat 164 000 megaliter en 480 000 megaliter onderskeidelik.
Sou jy dus wanneer die Augrabies waterval teen 3000 kumeks vloei, ‘n leë Voëlvleidam onder die waterval kon neersit, sou dit minder as 16 ure neem om vol te loop en ‘n Theewaterskloofdam sou in minder as 45 ure vol wees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!