Malmesbury Schools

HSS neem met sukses aan vakansietoernooie deel

o.19A Meisiehokkie – Die Hoërskool Swartland se 1ste meisiehokkiespan het die vakansie op Mosselbaai aan die Arthur Johnson-sportweek deelgeneem en 4de in die toernooi geëindig. Hulle het hul kragmetings teen Grens, Adamantia, Greenwood Bay, Melkbosstrand o.16A en Dirkie Uys gewen.
Swartland het gelykop gespeel teen Melkbosstrand (verloor die strafdoelstryd 1-3) en in die eindronde verloor teen Punt.
Mia Steyn en Carla Botha is gekies vir die All star-span wat gekies is uit al die beste spelers van die toernooi.

o.19A Rugby – Die skool se 1ste rugbyspan het aan die Klein Karoo Saadproduksie-week by Oakdale gaan deelneem. Hulle het hul kragmeting teen Upington gewen en teen Vryburg en Merensky Landbou-Akademie vasgeval.

o.19A Seunshokkie – Swartland se 1ste seunshokkiespan het aan die voorseisoense Paarl Gimnasium-toernooi deelgeneem.
Hulle het hulle kragmetings teen spanne van Worcester Gimnasium, Curro Durbanville en Paarl Boishaai gewen en die knie gebuig voor Paarl Gimnasium en Parel Vallei.

o.19A Netbal – Die skool se 1ste netbalspan het na Pretoria gereis om aan die Menlopark-toernooi deel te neem. Daar het hulle met sterk spanne meegeding. Sommige van die wedstryde op die program moes ook gekanselleer word weens reën en donderweer.
Swartland het hul wedstryde teen Wonderboom en Volkskool gewen en in die ander kragmetings verloor.
Die span het ook die afgelope naweek aan die Fair Cape Six Gun Grill Superskole-toernooi by La Rochelle in Paarl deelgeneem.
Hulle het uitstekend gevaar en tweede in hul liga geëindig.
Swartland het met ‘n Paarl HMS Uitnodigingspan, Strand, Melkbosstrand, Kings College, Worcester Gimnasium, Montana, Edgemead en ‘n La Rochelle Uitnodigingspan afgereken. Die Rockies het teen Parel Vallei verloor.

Ander prestasies: Heelparty Rockies het ook in ander sport uitgeblink.
Onder hulle is Emma Hartley en Jani Steyn.
Emma Hartley het deelgeneem aan die SA-skolebyeenkoms en ‘n derde plek losgestap in die 5km vir o.16 meisies.
Jani Steyn is gekies vir die o.19 SA Skoletennisspan.

Leave a Reply

error: Content is protected !!