Perth, hier kom ek – Arendse
Johan Viljoen
Die terugslae en uitdagings lê as stille getuies langs sy lewenspad, maar Bradley Arendse van Malmesbury oorkom hul elke keer en gee die volgende tree telkens met nuwe ywer en krag.
Vandag vlieg hy saam met die Suid-Afrikaanse oorplantingspan na Perth in Australië om die land by die Wêreld Someroorplantingspele te verteenwoordig.
“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid.
“Dit is onbeskryflik.”
Só gesels die man wat die laaste jare ook bekend geword het vir sy woordkuns.
Hy is reeds ‘n gepubliseerde digter wat ook gereeld aan die Poetry Jam op Riebeek-Kasteel deelneem,
“Ek het al op ‘n jong ouderdom begin skryf. Aanvanklik liefdesgedigte, omdat ek maar baie skaam is.
“Deur die jare het ek geleer die beste manier om myself uit te druk, is deur woorde – deur poësie. Behalwe om fiks te bly en die lewe ten volle te geniet, is poësie my groot ontvlugting van die werklikheid en gee dit my ‘n gevoel van voltooiing na elke laaste vers wat ek skryf.”
Hy vlieg vanoggend na Johannesburg en dan vanaand saam met die span na Sydney voor hulle weer weswaarts na Perth vlieg.
Die 100m-wedloop is op die spele se program vir aanstaande Vrydagoggend in die Wes-Australië Atletiekstadion.
Arendse is in die SA Oorplantingspan om in die ouderdomsgroep van 29 tot 39 jaar deel te neem.
Daar is ses ure verskil tussen ons en Perth, so dit sal vroeg die oggend in Suid-Afrika wees.
‘n Groot droom van dié Swartlander van die laaste klompie jare sedert hy in 2019 ‘n skenkernier ontvang het.
“Daardie dag het my lewe verander.”
Omdat hy graag oefen en redelik fiks was met die oorplanting, was Arendse gou weer op die been en die oefenfiets. Hy het enkele maande ná die oorplating reeds die Kaapstad Fietstoer oor 109km voltooi.
Maar als was nie maanskyn en rose sedertdien nie.
Ná ‘n miskraam, het sy vrou, Sandy, in 2020 weer swanger geraak en hulle was baie opgewonde. Maar weke voor die verwagte bevalling is hul babaseun weens komplikasies vroeggebore en oorlede.
Hulle sou hom Kayden noem.
Arendse het op Abbotsdale grootgeword en sy skooljare op Wesbank Sekondêr voltooi.
Hy het later by KaapAgri gewerk. Sy gesondheid het egter agteruit gegaan en hy het nierversaking opgedoen.
Hy moes vir 5 jaar dialise kry en die laaste twee jaar was dit drie keer per week. Hy is ook medies ongeskik verklaar om te werk en moes hy en sy gesin die nodige aanpassings maak met die verminderde salaris.
Kort voor sy 36ste verjaarsdag het hy die nier ontvang.
“Ek geniet my tweede kans op die lewe.”
Hy is ook gesond verklaar om weer te kan werk en is weer by Agrimark in diens geneem.
“Ek leef my lewe dag vir dag en staar uitdagings in die gesig soos hulle kom.
“Om ‘n byna-dood-ervaring met ‘n eindstadium-niersiekte te hê, het my regtig ‘n nuwe perspektief op dinge gegee. Om arm groot te word het my nederig en respekvol teenoor die lewe gemaak, my laat besef dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat saak maak.
“Ek leef, ek het lief, ek lag, ek skryf.”