CommunityLatestOns Mense

Wenskuif met skaakklub op Koringberg

Op Koringberg is ‘n nuwe skaakklub en 30 jongmense het al aangesluit by die klub onder leiding van Peter Farao.
Die nie-winsgewende organisasie Ek n Jy het die klub vir die jongspan in die gemeenskap onlangs met die hulp van ‘n plaaslike borg en die kundigheid van Farao op die been gebring. Lede speel tans drie maal per week skaak by die POP-sentrum op die dorp.

Farao, wat sy lewe lank al op Koringberg woon, vertel hy leer seuns en meisies tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar om skaak te speel.
“Ons het beslis jong talent hier en daar is ‘n paar kinders wat regtig hulle skaak nou ernstig opneem,” voeg dié gebore Swartlander by.
“Skaak is my passie. Op skool het die skaakgogga my gebyt.”

Peter Farao

Hy het ook talle skooltoekennings en medaljes vir skaak ontvang.
Farao vertel hy is gestrem en kon nie ander sport soos rugby speel nie.
‘Doen alles wat jy aanpak met wilskrag, want ek glo sonder wilskrag sal jou planne misluk.”
Hy sê sy ma is sy inspirasie “want sy is net altyd, altyd daar vir my. Vir enige iets”.
Oor Ek n Jy kan Farao nie uitgepraat raak nie.

“Ek n Jy gee my die kans om betrokke te wees by die ontwikkeling van jongmense. Dit is wonderlik om liefdadigheidswerk daar te kan doen in die gemeenskap.
“Ek n Jy het ‘n platform geskep vir sportontwikkeling soos raakrugby, netbal en straatkrieket en hulle program sluit nou ook skaak in – waaroor ek ‘super bly’ is.
“Daar is baie mense wat kan skaak speel en daar is ook baie wat wil leer. Skaak is ‘n spel wat geoefen moet word. So ek is bereid om met private lesse ook ouer spelers te help om hulle skaakpassies te begin of te heraktiveer – in Koringberg en ook omliggende areas.

Farao is ook ‘n platejoggie, en sal graag eendag wil kwalifiseer as klankingenieur om musiek te maak as “gewalifiseerde platejoggie. Ek is mal vir musiek.”
Die nuwe skaakklub beoog om laat in April of vroeg in Mei ‘n eindronde-toernooi aan te bied. Meer besonderhede sal binnekort bekend gemaak word. Almal sal welkom wees om te ondersteun.

Vir meer inligting, kontak Ek n Jy by 083 226 6099.
“Donasies vir die ontwikkeling van skaak en ander sport is ook altyd baie welkom.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!