CommunitySports

Selfdissipline, spanwerk sê Jaylenn oor Spanje-kans

Andre Smith
Ek móés net vir myself sien en beleef hoe die jong blitsvleuel van Esterhof in Riebeek-Kasteel sy “magic” op die rugbyveld ten toon stel.
Jaylenn Snyders (19) is hier nou die naam op almal se lippe as dit by rugby kom. Hy is tans in matriek aan Schoonspruit Sekondêr, maar dit is sy natuurlike talent vir rugby wat hom die oog laat vang onder sy afrigters, klasmaats en die ondersteuners in sy tuisdorp.
Irene Snyders, Jaylenn se mentor en grootste ondersteuner, vergesel my na een van sy oefenwedstryde in Esterhof. En dis hier waar ek sy vernuf en natuurlike aanleg vir die spel eerstehands beleef. Sy hand-oog-koördinasie gekombineer met sy spoed as hy aan ‘n rugbybal raak, is verstommend.
“Jaylenn is ‘n jongman van baie min woorde, maar die oomblik as hy ‘n rugbybal in sy hand neem, ontwaak daar ‘n ander kant van hom wat helder skitter,” vertel Irene.

Hy het al van kleins af rugby gespeel. As 8-jarige knapie vir die eerste keer uitgedraf vir die Ronde Koppies se o.9-spannetjie by Meiring Primêr onder leiding van juffrou Dirkse.
Sy pa (wyle) Jason Snyders was ook ‘n kranige rugbyspeler – een van Jaylenn se grootste rolmodelle.
In die laerskool is hy ‘n paar keer as speler van die wedstryd asook sportman van die jaar aangewys. Ná Covid het hy onmiddellik weer alles gegee en is verlede jaar aangewys as die beste o.19-agterspeler van Schoonspruit Sekondêr en het ook die meeste drieë vir die o.19-span gedruk.
Jaylenn se harde werk en merkwaardige prestasies het vrugte afgewerp en hy is opgeneem in ‘n uitsoekspan wat in September vanjaar na Spanje toer.
Hy is baie opgewonde oor dié vooruitsig, want vir hom is dit een van sy groot mikpunte.
Gepols oor sy grootste uitdagings in rugby, antwoord Jaylenn heel beskeie: “Ek het nie enige spesifieke uitdagings nie. Ek probeer my net toespits op alle aspekte van die spel soos ons afrigter ons leer. Om een punt voor te wees vir die opponent, moet jy jou beste gee en al jou vaardighede tot die beste van jou vermoë gebruik.”

Hy sonder sy afrigters by Schoonspruit – mnre. Isaacs, De Jager en Fransman – uit vir hul aanmoediging en leiding.
Dit was nie so maklik om die span te haal nie. Jaylenn sê dit het baie deursettingsvermoë geverg en hy moes met selfdissipline oefen en hard aan sy spelvermoë en vaardighede skaaf.
Hy moes smiddae ná skool agterbly vir oefening en het saans laat eers by die huis aangekom. Naweke is dit vroeg opstaan vir ‘n wedstyd wat iewers gespeel moet word en dan weer terug reis na Riebeek-Kasteel.
“Maar dit was als die moeite werd en het vrugte afgewerp.”
Jaylenn sê sy ma Liezel staan hom by deur dik en dun. As enkelma gaan dit soms moeilik om veral finansieel te voorsien in al sy behoeftes om sy skool en rugbydrome waar te maak. En met die rugbytoer in September is dit veral ‘n uitdaging om al die nodige fondse by te bring, maar sy uitgebreide familie is vasbeslote om Jaylenn se Spanje-droom te bewaarheid. Verskeie fondsinsamelingspogings is reeds van stapel gestuur om die onkostes vir die toer te help dek.
“Ons sal baie hard werk om Jaylenn in sy droom te ondersteun. Ons wil al by voorbaat dankie se vir ons plaaslike gemeenskappe wat ons sal ondersteun om die kind van ons te ondersteun”, sê Irene.

Jaylenn het ook ‘n paar woorde vir ander jong spelers wat ook die hoogtes wil bereik: “Bly biddend. Moet nooit moed opgee nie. Gryp elke geleentheid aan en as jy faal, probeer net weer.
“Vertrou jouself en jou vaardighede op die sportveld. Oefen gereeld en soveel as wat jy kan. Skerp jou vaardighede op deur te luister na jou afrigters, mentors en steel met jou oë deur goeie rugby te gaan kyk – selfs op televisie.
“Dis baie belangrik om goed in ‘n span te kan speel. My pa het altyd geglo dat dit nie gaan oor die drie wat gedruk word nie, maar oor die persoon wie die drie gemaak het.
“En my antie Irene se woorde aan my (voor of tydens ‘n wedstryd) is dat ek altyd my hart moet uitspeel en die spel moet geniet. Ek glo met hierdie raad en advies, sal ek altyd ‘n stap voor wees vir die opponent.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!