Hewett lei Agri Malmesbury; Dürr vereer
Ons is werklik geëerd om in die Wes-Kaap te wees en boer.
Só het Dickie Hewett gisteraand gesê nadat hy op die jaarvergadering van Agri Malmesbury tot nuwe voorsitter verkies is.
Hy het die spreker en provinsiale LUR vir landbou, dr. Ivan Meyer, bedank. “Ek dink nie ons waardeer altyd as jy nie uit die Wes-Kaap reis, wat die DA vir ons hier doen nie.”

Die res van Agri Malmesbury se bestuur is Hentie Smit (ondervoorsitter), Philip Geldenhuys (sekretaris) met addisionele lede Eben Schellink, Janus le Roux, Michiel Smuts, Thys Basson en Truter de Kock. Die voorsitters van die onderskeie studiegroepe – Koringstudie, Skaapstudie, Suiwelstudie, Wingerdstudie en Veiligheid – dien ook op die bestuur.
Op die vergadering het Agri Malmesbury ook vir John Dürr vereer “vir sy jarelange toewyding en bydrae tot Agri Malmesbury en georganiseerde landbou in ons streek”.

Dürr het vertel dat hy al meer as 40 jaar lid is en dit ‘n voorreg was om onder verskeie voorsitters te dien.
“Ons vereniging het die kompetisie vir die beste landbouvereniging in die Wes-Kaap soveel keer gewen dat ons die reëls oorgeskryf het, maar toe wen ons steeds aanmekaar. Toe is die kompetisie maar gestop.”
In die uittredende voorsitter, Thys Basson, se jaarverslag het hy gewys op landbougrond in die streek wat toenemend styg weens eksterne faktore en die Swartland Munisipaliteit versoek om dit in ag te neem met begrotings en die vasstelling van grondbelasting.
Hy het ook die interafhanklikheid van die landbou en die munisipaliteit beklemtoon.

Basson het in sy verslag kommer uitgespreek oor die impak van sogenaamde “loan sharks” op huishoudings van plaaswerkers en die groot deel van hul inkomste wat dié sektor van werkers kan verhaal met ernstige finansiële gevolge op die besteebare geld wat oorbly.
Oor die toekoms van die Malmesbury skougronde sê Basson “daar het nie veel gebeur” sedert die vorige jaarvergadering nie. “Ons staan nog hier sonder antwoord.”
Tydens die vergadering is die nuwe bestuurder van die Malmesbury Agrimark bekendgestel.

Fergie Thompson het vertel dat hy vir ‘n paar jaar hul tak op Darling bestuur het, maar nou terug is in Malmesbury. “Ek sien uit daarna om almal hier van diens te wees.”
Die vergadering is vroeër geopen deur ds. George Prinsloo.

“Ons lewe vandag ook in die landbou in besonder uitdagende tye.”
Hy het gesê hy hoop as almal ná die vergadering weer uitmekaar gaan, dit met moed sal wees.
“Ons land sukkel om as groepe mekaar te vind. Ek dink nie op voetsoolvlak nie, maar op ‘n ander vlak.”
Prinsloo het gesê: “Dit lyk vir my as ons iets vind by God self, raak ons veranker op ‘n nuwe manier.”
Hy het bygevoeg: “Om te boer met genade – dit is waartoe ons geroep is.”