1 Weskusdorp van Eskom ontkoppel – Meyer
Een dorp in die Weskus-distrik sal as ‘n deel van die Wes-Kaapse regering se nuwe loodsprojek totaal van die Eskom-netwerk losgemaak word met alternatiewe elektrisiteit.
Só het die provinsiale LUR vir landbou, dr. Ivan Meyer, gisteraand op Malmesbury gesê.
Die provinsiale kabinet het ‘n besluit geneem om een dorp uit elke distriksmunisipaliteit in ide provinsie te kies vir dié loodsprojek om totaal onafhanklik van Eskom te raak.
Meyer was die gasspreker by die algemene jaarvergadering van Agri Malmesbury.
Hy sê die provinsie het geld bewillig vir dié projek wat so gou moontlik van stapel gestuur sal word “om vir Suid-Afrika te wys daardie dorp is onmiddellik van beurtkrag vrygestel.”
Meyer het die noodsaaklikheid van ontwikkeling beklemtoon.
Hy het ook gesels oor die effektiwiteit van die stadsbeplanningafdeling van die Swartland Munisipaliteit met die goedkeuring van planne. “Wanneer jy ‘n bouplan goedkeur, stimuleer jy ekonomiese ontwikkeling onmiddellik.”
Oor landbou in die provinsie, het hy die kernareas waarop sy departement fokus, uitgelig.
Meyer sê hulle kyk na landelike veiligheid, oop markte, landbounavorsing en opleiding, ondersteuning vir boere en klimaatsverandering.
Hy wil meer landbouskole in die provinsie sien en ook meer skole wat fokus op landbou. “Daar is reeds 50 landboufokusskole.”
“My gesprekke met die minister van onderwys dui daarop dat daar meer landbouskole gaan kom,” het hy bygevoeg.
Meyer het gesê die land is stukkend en landbou is ‘n werkwoord. Dit beteken jy bou die land.
Oor die georganiseerde landbou en instellings soos Agri Malmesbury het hy die belangrikheid daarvan “as rolspeler in ontwikkeling” beklemtoon.
Oor landelike veiligheid sê hy ‘n aanval op ‘n boer/produsent/werker is ‘n aanval op die ekonomie van die land en moet in daardie ernstige lig hanteer word. Hy het ‘n provinsiale interministriële komitee hiervoor in die lewe geroep. Meyer het ook mense soos Uys van der Westhuizen van Malmesbury uitgesonder vir die waardevolle werk wat hulle in dié verband doen. Nie net plaaslik nie, maar ook landswyd.
Meyer sê al beslaan die Wes-Kaap (129 000 km²) ongeveer 10% van die totale oppervlak van die land (1 300 000 km²) kom 55% van die land se landbou-uitvoerprodukte uit dié provinsie.
“Statistiek van 2018 toon dat die kommersiële landbou R64 miljard gegenereer het.”
“In Suid-Afrika moet ons besef ‘n boer is jou vriend. As jy nie na jou boere kyk nie, kom jou regering tot ‘n val.” Hy het daarom ‘n paar jaar gelede ook ‘n veldtog #fortheloveofagriculture van stapel gestuur.
Meyer het ook oor droogte (“Suid-Afrika is die 50ste droogste land ter wêreld”) gepraat en die noodsaaklike gebruik van tegnologie om in droogtetoestande te boer. Ook om boere in droogte te ondersteun.
Veesiektes is ook ‘n “ding wat my baie pla. Suid-Afrika het nie die vermoë om dit te hanteer nie.” Hy het ook vir dié rede ‘n Veeartsenykundeweek geloods om die fokus op dié sektor te laat val.
Van die lede by die vergadering, Liam Viljoen, John Dürr en Gert Claassen het Meyer versoek om te kyk na kwessies soos ondersteuning met asbes op plase, erkenning vir behuising van plaaswerkers, toegang tot water en die frustrerende rompslomp met die lisensies daarvoor, die opvoeding van plaaskinders met die sluiting van landelike skole asook die veediefstal in die streek en wyer.
Dürr het daarop gewys dat dat volgens aangemelde syfers daar daagliks 180 beeste, 282 skape en 138 bokke in Suid-Afrika gesteel word.