Agri/BusinessNeffens die Voorblad

Landbou en boer – wat bou jy?

Johan Viljoen

MENING – Die Wes-Kaap se LUR vir landbou, dr. Ivan Meyer, spreek vandeesweek ‘n paar lede van Agri Malmesbury (voorheen Malmesbury Landbouvereniging) toe.
Een van die goed wat Meyer sê is: “Ons moet besef in Suid-Afrika, ‘n boer is jou vriend.”
Hy vertel ook van die veldtog wat hy al ‘n paar jaar gelede geloods het onder die handvatsel #fortheloveofagriculture.
Maar wat Meyer sê is niks nuut nie. dié courant het presies 10 jaar gelede berig oor die bekende joernalis Max du Preez wat op die jaarvergadering van die einste Malmesbury Landbouvereniging gepraat het. Du Preez het toe gesê: “Ek kom uit ‘n landbou-familie, maar ek is bly ek is nie nou ‘n boer nie – die boere het die slaansak geword!

‘‘Die boere dra al die emosionele skuld, al is landbou een van die edelste beroepe.
‘‘Ek dink die mense van ons land moet bietjie meer dankbaar wees teenoor die landbouers van Suid-Afrika.”
En albei is in die kol. Die landbou is ‘n primêre bron van lewensnoodsaaklike produkte vir die mens. Daarsonder is hier geen mense nie.
Dit is dus ononderhandelbaar om voedselsekuriteit te verseker en die landbou as daardie bron ten alle koste te beskerm. Maar só ook die waardeketting (soms straks onnodig lank) tot die produk op die verbruiker se tafel beland.
Maar daar is ‘n spektrum van produkte wat wissel op die skaal van primêre noodsaaklikheid tussen die stapelvoedsel en die luukser, duurder voedselsoorte.
Net so ook is daar vele ander primêre en sekondere bedrywe wat in mindere en meerdere mate van kardinale belang is vir die mens se totale welstand.
Dus belangrik om te waak daarteen om een bedryf bo ‘n ander te verhef.

‘n Ander realiteit van ons gemeenskap is ‘n sosio-politieke een.
Daar is ‘n wanbalans in ons land ten opsigte van welvaart tussen verskillende gemeenskappe, al is dit met die ewolusie van die politieke veld gelukkig al moeliker om daardie gemeenskappe te definieer.
Tog is daar juis weens die politieke gister ook ‘n persepsie by ‘n gedeelte van ons gemeenskappe dat boere konserwatief is en ook nie na hulle werknemers omsien nie. Daardie persepsie is en word steeds dikwels deur verskillende vorme van media lewend gehou.
Die slegte waarheid is dat dit ongelukkig waar is van sommige sakelui in haas elke komponent van die sakesektor – ook die landbou.

Dit is daardie mense (dikwels meer as wat baie wil erken) wat die aandag trek en dan vir baie, wat so wil glo, juis ‘n bevestiging van die negatiewe persepsies is. Sommige sien die sakemodelle as uitbuiting van mense en arbeid, terwyl ander dit weer as die vrye mark sien.
Hoe ookal. Oor jare kom ook groot korporatiewe instelling weg daarmee om werknemers as’t ware te mishandel. Jy kan nie sê alle werkgewers is so nie, maar sommige is.

Jy kan ook nie sê alle boere is so nie, maar sommige is. Ongelukkig dryf dié wat uitstaan – aan die groot klok gehang word – dikwels die persepsies.
Dit plaas die kollig baie vinnig op die een of ander sektor en sosiale media maak dit ook al makliker.
Is die gaping tussen werkgewer en werknemer moreel regverdigbaar?
Word rykes ryker en armes armer, of krimp die gaping?

Behoort die verhouding tussen die groot pakket van die hoof uitvoerende beampte van die groot korporasie en die klein salaris van die skoonmaker gemeet te word?
Behoort die verhouding tussen die materiële welstand van die landbouer en dié van die werker gemeet te word?
Word hierdie gapings groter of kleiner? Dit is dalk die enigste vraag.
Dr. Ivan Meyer sê landbou is ‘n werkwoord. “Bou die land.”
So wat bou jy as jy landbou beoefen? Bou jy die aarde? Bou jy infrastruktuur? Bou jy mense?

Leave a Reply

error: Content is protected !!