Werk aan Malmesbury-verbypad skop eersdaags af
Ná jare se beplanning het die tyd aangebreek vir die Malmesbury-verbypad wat die Weskus direk met die Paarl sal verbind.
Die tender vir die projek is reeds goedgekeur en grondeienaars (4 boere oor wie se plase die pad sal strek) is reeds onteien.
Daar was aanvanklik na verskillende modelle vir die roete van die nuwe pad gekyk voor op die finale roete besluit is. Die nuwe pad wat met verskeie brûe oor onder meer die Ou Piketbergweg en rivierlope sal strek, sal die nuwe N7-Hopefield (R45)-aansluiting met ‘n nuwe Riebeek/Paarl (R45/R46-aansluiting) verbind. Laasgenoemde aansluiting word dan ‘n groot interseksie wat ook meer noord-wes skuif.
Vier grondeienaars – Die Basson-broers, Truter de Kock, Dolfie Walters en Jan Bester – is deur die onteiening geraak.
Die nuwe verbindingsroete wat tussen 6 en 7 km lank is, vorm deel van ‘n groter vervoerinfrastruktuurprojek vir ‘n vragroete wat die ontwikkelings in Saldanhabaai en die Weskus verbind met belangrike ander vervoerroetes in die Wes-Kaap.
Die pad se roete is reeds uitgemerk en konstruksie behoort binne die volgende paar weke amptelik af te skop waarna die pad ná ongeveer twee en ‘n half jaar in die tweede helfte van 2025 voltooi behoort te wees.
In die onlangse provinsiale begroting is daar ‘n bedrag van R520 miljoen vir dié nuwe verbindingsroete uitgesit.
Dit is gelys as een van die provinsie se top-10 projekte oor die 2023 mediumtermynbestedingsraamwerk.
‘n Deel van die werk behels die verskuiwing van groot volumes grond.
Die skoolhoof van Hoërskool Swartland, Justus Schoonraad, het vroeër gesê die skool sal graag van dié grond wil bekom om die opvullings vir hul ekstra rugbyveld te voltooi.
*dié courant het sedert meer as ‘n jaar gelede herhaalde kere by die provinsie navrae gedoen oor meer besonderhede oor dié projek met ‘n groot impak op die Swartland en Weskus, maar kon tot dusver nie suksesvol inligting van dié owerheid bekom nie.
Die woordvoerder, Jandré Bakker, het ná die jongste navraag gesê die LUR sal ‘n amptelike “ground breaking” doen. “Dit is wat verwys word as ‘n ‘green fields’-projek en een van die grootste beleggings in die area wat paaie betref.”
dié courant het ook by kontrakteurs navraag gedoen, maar hulle moet eers by hul kliënt toestemming kry voor hul enige inligting met die media mag deel.