LatestOns Mense

‘Straks brons’, maar Bradley oefen vir Dresden

As alles volgens plan verloop het, het die Swartland na alle waarskynlikheid ‘n podiumplek en medalje gehad in die 100m op die Wêreldoorplantingspele wat verlede week in Perth ten einde geloop het.
Maar dit het toe nie so uitgewerk nie. Bradley Arendse van Malmesbury, wat in 2019 ‘n skenkernier ontvang het, sou Donderdag in die Wes-Australië Atletiekstadion vir Suid-Afrika hardloop en met sy kwalifiserende tyd van verlede jaar (12:14) behoort hy minstens die brons te kon opraap as jy kyk na die tye wat aangeteken is.

Arendse vertel aan dié courant hy het sedertdien beslis nog vinniger gehardloop, al is dit nie amptelik gemeet nie. “Ek was natuurlik baie teleurgesteld omdat ek nie kon gaan nie, maar het nou reeds weer begin oefen vir die nasionale kampioenskappe aanstaande jaar en om weer te kwalifiseer vir die volgende Wêreldoorplantingspele in 2025 in Dresden, Duitsland.

“Ek sien hulle het vanjaar vir die eerste keer driekamp ook gehad. Miskien moet ek die Ysterman aanpak. Hy sê hy gaan beslis ook probeer om beter tye in die 400m “miskien ook die 200m” en op die padfiets op te stel om in van daardie items ook te probeer kwalifiseer.
Die Suid-Afrikaanse sportlui moes self hul visums vir die spele kry. Arendse sê hy kon nie voor vroeg in Maart daarvoor aansoek doen nie, omdat hy eers die nodige fondse moes kry.
Op 1 April het hy gehoor sy visumaansoek is afgekeur “omdat hulle geglo het ek sal in Australië wil agterbly”.
Hy het onmiddellik nog R2860 betaal om weer aansoek te doen met al die nodige stawende dokumente en tot op die einde bly hoop die tweede probeerslag sou suksesvol wees.

Maar nadat die res van die span reeds die Donderdagaand na Australië vertrek het, het hy sonder antwoord in Johannesburg gewag tot die Maandag toe dit duidelik geword het hy sou weer nie suksesvol wees nie.
“Ja, ek was baie teleurgesteld, maar ek is baie bly oor waar ek nou is. Dit is presies 10 jaar nadat ek met die niersiekte gediagnoseer is, en dit gaan met my baie goed.
“Ek is gesond en fiks en gelukkig,” sluit hy af.

Leave a Reply

error: Content is protected !!