Filharmoniese orkes by Solo Studios kunsnaweek
Daar is weer ‘n beroering in hul ateljees en die kunstenaars woel met hernude ywer om nuwe werke te skep vir die 2023 Solo Studios wat oor ‘n paar maande weer in die Riebeekvallei plaasvind.
Elke jaar gooi kunstenaars die deure van hul private ateljees oop vir besoekers om ‘n baie besondere en intieme persoonlike kunservaring met die kunstenaars binne-in hul werkruimtes te beleef.
Vanjaar is geen uitsondering nie en, soos elke jaar, is daar ook weer ‘n groot aanbieding van uitsonderlike ander kunsaktiwiteite oor die naweek.
Een van die hoogtepunte op vanjaar se Solo Studios (18 tot 20 Augustus) is die spesiale optrede van die Wynlandse Filharmoniese Orkes.
Met ‘n sterk fokus op uitnemendheid, streef die Wynland Filharmoniese Orkes daarna om ‘n betekenisvolle impak op die kulturele landskap van die streek te maak.
Dié uitvoering sal die Sondagmiddag in een van die vallei se mooiste geboue, die NG Kerk op Riebeek-Kasteel, plaasvind. Dit sluit ook ‘n eerste optrede daar van die immergewilde Riebeek Kasteel Steelband in.
Beslis ‘n unieke vertoning vir die Swartland om nie mis te loop nie.
Maar dit is slegs die laaste inskrywing op ‘n propvol kunsprogram vir die naweek.
Onder die ander hoogtepunte, naas die kunstenaars se ateljees en groepuitstalling in verskeie galerye, tel die openingsgeleentheid die Vrydagaand vir gaste met premier-naweekkaartjies en die nag van die lang tafels. Hier kry gaste weer by verkeie deelnemende venues/restaurante in die vallei ‘n unieke en intieme kos-en-wyn-ervaring met top-sjefs en wynmakers – ‘n ervaring wat vir lank nog sal vertoef in die smaakbekers van onthou.
Vir die wynliefhebber is daar ook weer ‘n Art of Wine-geleentheid op die program ingesluit met onder andere die gewilde sommelier Joseph Dhafana.
Naas die gallerye en ateljees wat vir kaartjiehouers oop is, kan gaste met premier-naweekkaartjies ook verskeie begeleide staptoere na gegroepeerde ateljees meemaak vir ‘n meer toegeligte kykie na die onderskeie kunstenaars en hul se werke.
Die top-kunstenaars (waaronder sommige in samewerking met ander kunstenaars – plaaslik en van elders) uit die vallei wat vanjaar individueel aan Solo Studios deelneem, is Ade Kipades, André François van Vuuren, Andries Dirks, Antoinette von Saurma, Brett Schuman, Dieter Wust, Emma Willemse, Gordon Williams, Kevan Moses, Lizette Visser, Louis Nel, Misha Hillier, Riaan van Zyl, Sharon Bischoff, Solly Smook, Tamlin Blake en Wiehan de Jager.
Die samewerkende kunstenaars wat as gaste deelneem, is Amy Moses, Clayton Sutherland, Hennie Meyer, die Keiskamma Kunsprojek, Linda Waterkeyn, Paul Kristafor, Ros Koch en Shui-Lyn White.
Die deelnemende galerye met groepuitstallings (onder andere private versamelings) is Royal Straat 1 Gastehuis, Die Kunshuis, Gallery 7 on Plein, Pictorex, Q Studio – Impendulo, RK Contemporary, Spier Arts Trust en The Hub.
Onder die werke van kunstenaars in verskeie media tel dié van Ad Goedhart, Anthony Harris, Anton Momberg, Boyce Magandela, Carl Collison, Claudia Gurwitz, Emma Aspeling, Greta McMahon, Hentie van der Merwe, Jenny Parsons, Johan Viljoen, Leila Fanner, Linda Harrison, Louisa Gerryts, Mary Walker, Rudolph Willemse, Tanya Majo en William Walker.
Kaartjieverkope vir vanjaar se Solo Studios (daar word ‘n beperking geplaas op die getalle) is reeds oop. Besoek gerus die webwerf www. solostudios.co.za vir meer inligting.