LatestSports

Good Hopes verras met Wesbank-sege

Net toe dit lyk of jy ná ‘n klompie wedstryde met gemak kan voorspel hoe die Swartland se Grootuitdaagspanne teen mekaar sal opweeg, kom gooi ‘n span of twee ‘n kat in die duiwehok.
Al het die meeste wedstryde en telborde in dié liga van die Boland se klubrugby redelik volgens vooruitskatting verloop, het minstens een span ‘n ander plan gehad.

Good Hopes van Riebeek-Wes moes reis om vanuit hul sewende posisie op die punteleer die ligavoorlopers, die onoorwonne Wesbank, op hul tuisveld aan te pak, maar die hoop het nie beskaam nie.
Good Hopes het die vorige Saterdag gasheer gespeel vir Darling, een van die ander huidige top-spanne in die liga, en die besoekers toe met 27-25 geklop.
Al was Wesbank uiteraard die gunsteling in Saterdag se tuiswedstryd, het Good Hopes ander planne gehad om hul tweede agtereenvolgende sege oor ‘n top-span te behaal. Die besoekers van agter die berg het die wedstryd verrassend met 26-19 gewen.
Op Darling het die tuisspan, nadat hulle die vorige Saterdag op Riebeek-Wes teen Good Hopes vasgeval het, die spelers van Samoa ontvang.
Die melkboere het in die tweede helfte van die tweede helfte eers die voet van die rem gehaal net toe Moorreesburg tot in daardie stadium nog gelyk het of hulle die nodige skietgoed vir ‘n sege kan hê.
Darling het die kragmeting met 37-20 gewen.

Die ander Grootuitdaagwedstryde tussen die top-spanne van die klubs in die Swartland-afdeling het min of meer volgens die vooruitskatting verloop.
Abbotsdale, wat die vorige Saterdag ‘n groot sege oor Moorreesburg behaal het, het weer gewen toe hulle Saron op laasgenoemde se tuisveld naelskraap met 25-24 geklop het.
Porterville was, soos verwag, te sterk vir die besoekende Riebeek United en het met 46-15 geseëvier.
Villagers Wittewater kon nog nie ‘n wedstryd wen nie en het Saterdag die knie gebuig voor die besoekers van Never Despair. Die wegholtelling was 73-7.
Abbotsdale het nou opgeskuif na die eerste plek op die punteleer met Darling tweede en Wesbank derde.
Villagers is tans laaste op die punteleer met Riebeek-United wat met een sege net bokant hulle lê.

Wesbank ontvang komende Saterdag besoek van Saron, terwyl Darling na Abbotsdale reis.
Good Hopes speel tuis teen Villagers Wittewater en Riebeeck United kom ook in ‘n tuiswedstryd teen Never Despair te staan. Die ander kragmeting in die liga is dié op Moorreesburg wanneer die tuisspan met Porterville kragte meet.

Met die Swartlandse spanne in die Weskus-afdeling gaan dit nie te waffers nie. Koringberg het Saterdag in ‘n wegwedstryd met 28-40 teen Hopefield vasgeval. Piketberg het ‘n loslootjie gehad.
Hulle beklee tans onderskeidelik die 9de en 11de (laaste) plek op die Weskus-punteleer.
Hierdie Saterdag speel Piketberg gasheer vir Vredenburg terwyl Koringberg ‘n loslootjie het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!