CommunityNews

Plaasorkes trots op hul erkenning

Die jongspan help fluks om die wa af te laai. Dis laatmiddag op die plaaswerf in die Swartland. Vir die meeste mense in die wingerde en boorde is dit amper uitvaltyd.
Die son het al agter Kasteelberg gaan kuier en die orkes slaan sommer hier neffens die stoor en werkershuise op om op ‘n skemerwordende Maandagaand te oefen.

Twee plase se kinders is saam in hierdie orkes – een van ses in die Swartland.
David Wickham vertel hy het 25 jaar gelede die eerste Steel Band hier in Riebeek-Kasteel gevestig. Nou is daar ses – Riverlands, Elkana Wesbank-Malmesbury, Hermon, For Life Centre (Riebeek-Wes), Riebeek-Kasteel en hierdie een van die Vlok-plase Môrester en Ebenezer.

Daar is gemiddeld 15 kinders in elke orkes en hierdie Môrester-Ebenezer-orkes is trots op die Gees-beker wat hulle gewen het vir die beste gees in die streek.
Wickam en Donny-Jay Styles maak die jongspan touwys.
Soos die klanke van Shosholoza eerste opklink hier op die Ebenezer-plaas langs die R46 buite Riebeek-Kasteel met vistas op die vallei, begin van die plaasmense en kinders nader staan.

Sommige stap verby om die kos vir aandete aan die gang te kry.
Drie kleintjies tokkel eenkant saam op ‘n trom, ander luister net na die jongspan se samespel en ‘n hond lê elders opgekrul en slaap in die pad.
Gepols oor waar die fondse vir die bedryf van die ‘steel bands’ vandaan kom, sê Wickham hulle kry fondse van die staat en ook van private donateurs en soms ook as hulle optree.

Die jong Hermon-orkes het Saterdag by die Valleimark op die plein op Riebeek-Kasteel hul eerste optrede gehad.

Vandeesweek is daar ‘n Steel Band-fees op die einste plein op Riebeek-Kasteel.
Orkeste van elders neem ook aan die fees môre (Woensdagnamiddag) om 16:00 deel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!