Beplande abattoiraanleg by Malmesbury eers op ys
Die planne van Winelands Pork om die mees moderne varkabattoir in Afrika langs die Kalbaskraalpad buite Malmesbury te bou, is nou eers op ys.
‘n Klomp faktore waaronder die impak van Covid-19 en Eskom se onvermoë om die beskikbaarheid van die nodige kragtoevoer vir die perseel te verseker asook die ekonomie, is die oorsaak dat daar nou eers met dié projek gewag word.
Henry Shaw, operasionele bestuurder van Winelands Pork langs La Belleweg in Stikland, sê die ekonomiese klimaat in die land is nie nou gunstig nie.
“Ons sal moet wag en sien. Daar is nie krag nie. Dit is die eerste probleem waarmee ons sit. Ons het ook nog nie terugvoer van Eskom gekry nie.
“Die ekonomiese toestande het baie verander in die land.”
Winelands Pork het verlede jaar sy 21ste bestaansjaar gevier.
Die aanlegplanne, het dié courant voorheen berig, toon ‘n kapasiteit om 3200 varke per dag (400 per uur) te slag. Die geraamde koste in 2020 was R300 miljoen.
Erf 12485 buite Malmesbury is as die mees geskikte perseel uitgewys. Dit is naby die Kalbaskraalpad en die klein vliegveld agter JAR Transport geleë.
Die planne, soos aangedui, is ook om dan Winelands Pork (die bedryfsonderneming van Labelle Street Properties) se huidige Stiklandaanleg met sy kapasiteit van 1600 varke per dag te sluit wanneer die Malmesbury-aanleg in produksie sou kom.
Shaw verduidelik daar was in ‘n stadium ‘n “bietjie van ‘n ooraanbod van vleis gewees. Toe het dit weer verander, maar dit is ‘n bitter wisselvallige omgewing”.
Hy voeg by dat die jongste inligting rondom Rusland en die wapens ook ‘n “helse impak” gaan “hê op ‘n klomp van ons besighede”.
“Ek dink nie jy wil in sulke onstabiele ekonomiese omstandighede sulke goeters beginne aanpak nie.
“Ons is bitter bekommerd oor die ekonomiese toestande hier op die oomblik.
“Ek dink die beste opsie is om te wag tot ná die verkiesing.”